Zuma kap terug oor u2018nege vermorste jareu2019
Zuma kap terug oor u2018nege vermorste jareu2019

Zuma kap terug oor ‘nege vermorste jare’

Mxolisi Mngadi - Oudpres. Jacob Zuma het Dinsdag ’n dwarsklap na sy kritici uitgedeel wat openlik na sy termyn as president as “nege vermorste jare” verwys.

Zuma het van Twitter gebruik gemaak om te reageer op wat hy noem “die onlangse kommentaar en houdings wat, as dit nie bevraagteken word nie, ’n bedreiging inhou om die heersende wysheid en selfs die nuwe status quo in die ANC te word.”

Volgens Zuma is die “nege vermorste jare” nie slegs ’n verwysing na hom as president nie, maar wys dit ook vinger na die party in die algemeen.

Fin24 het vroeër berig dat pres. Cyril Ramaphosa by ’n aandete in Davos na die “nege verlore jare” verwys het. Ramaphosa maak ’n geruime tyd al melding van die tydperk tussen 2008 en 2018 as die verlore dekade in verskeie van sy toesprake. In Davos het hy egter daarna as “nege verlore jare” verwys wat saamval met die tyfperk toe Zuma aan die hoof van die land gestaan het.

VERKIESINGSJAAR

“Ons is in ’n verkiesingsjaar en dit word nie aanbeveel dat ons in ’n leuen glo dat die afgelope dekade ’n vermorste een is nie. Die ANC was in beheer en ons moet nie so ’n boodskap van ’n nederlaag na die mense neem wat hul stemme vir ons gee en hul vertroue in ons plaas nie,” het Zuma Dinsdag getwiet.

Hy het bygevoeg dat hy trots is op wat die ANC en die land die afgelope dekade vermag het en noem vrye tersiêre onderrig, MIV/vigs-behandelingsprogramme, gesubsidieerde behuising vir armes en toegang tot elektrisiteit, sanitasie en water as voorbeelde van mylpale wat bereik is.

Hy spog ook met die oprigting van twee universiteite tydens sy termyn as president van die land. Volgens Zuma moet die nederlae in twee van die groot metro’s in Gauteng in 2016 nie die ANC moedeloos maak nie, maar die party moet eerder op positiewe aspekte begin fokus. “Ons moet die mense die waarheid vertel oor wat ons gedoen het en nog gaan doen. Dit is hoe ons in die verlede ons verkiesings die afgelope twee termyne gewen het en ook die verkiesings voor hulle,” het Zuma getwiet.

Zuma het Ramaphosa ook gekritiseer en gesê dat hy nog nooit enige voorganger blameer het toe hyself aan die stuur van sake was nie. – Netwerk24/News24

Kommentaar

Republikein 2026-01-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer