Zuma hét gesê Gordhan se kop gaan rol

'n Politieke storm oor die Suid-Afrikaanse president se ­omstrede verhouding met sy ­minister van finansies het ­opnuut in die buurland ­losgebars.
Jo-Mare Duddy Booysen
Die SAKP is wél Maandag in sy bilaterale vergadering deur pres. Jacob Zuma ingelig dat hy Pravin Gordhan, minister van finansies, en Mcebisi Jonas, sy adjunk, se koppe gaan laat rol.

Solly Mapaila, tweede adjunkhoofsekretaris van die SAKP, het gister­oggend op die SAKP se media­konferensie in Johannesburg amptelik gesê Zuma het wel sy planne vir 'n kabinetskommeling Maandag aangekondig.

“Ons het ons beswaar teen die beplande kabinetskommeling aangeteken,” het Mapaila, wat die SAKP se verklaring voorgelees het, gesê.

Gordhan en sy adjunk is vandeesweek teruggeroep van 'n uitgebreide beleggingstoer in die Verenigde Koninkryk en Amerika.

Mapaila het Zuma se planne bevestig. Hy het ook bevestig dat Zuma die sogenaamde intelligensieverslag oor Gordhan en Jonas in Maandag se vergadering gebruik het as 'n rede vir hoekom die twee die trekpas moet kry.

Mapaila het sy ontevredenheid uitgespreek oor gerugte dat die SAKP dié inligting uit 'n vergadering met die ANC gelek het.

Mapaila het die president gemaan dat hoewel dit sy prerogatief is om ministers aan te stel of af te dank, hy steeds in diens van die ANC is en dat hy die ANC se mandaat in werking moet stel.



Revolusie op hande

Twaalf ministers oorweeg dit om te bedank sou pres. Jacob Zuma voortgaan met sy beoogde kabinetskommeling.

Vier hooggeplaastes het aan Bloomberg gesê dié 12 sal dan poog om Zuma uit die kussings te lig.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa en sommige adjunkministers kan glo ook bedank.

Die politici sal aanbly as gewone ANC-parlementslede en kan moont­lik 'n mosie van wantroue in Zuma steun of kan buite stemming bly, sou so 'n mosie voorgestel word.

Informele gesprekke is glo in dié verband tussen die ANC en die EFF aan die gang.



DA vra ondersoek

Suid-Afrika se inspekteur-generaal (IG) van intelligensie gaan versoek word om die bewering te ondersoek dat Zuma Maandag die beleggingstoer van Gordhan gekanselleer het weens 'n dokument waarin beweer word dat Gordhan beplan het om Zuma oorsee te beswadder.

Die DA het gisteroggend aangedui dat hy Isaac Dintwe, die IG van intelligensie, gaan vra om dié “bisarre” bewering te ondersoek.

David Maynier, DA-LP en woordvoerder oor finansies, sê Zuma het Maandag, toe hy Gordhan uit Londen herroep het, geen redes daarvoor gegee nie.

“Daar was net spekulasie dat Gordhan in 'n moontlike kabinet­skommeling afgedank kan word.

“Die mees bisarre verduideliking tot dusver is dat (Zuma) die beleggingstoer gekanselleer het op grond van 'n 'intelligensieverslag' waarin beweer word dat (Gordhan) geheime vergaderings met mense in die Verenigde Koninkryk en Amerika sou hou om die staat omver te werp as deel van die sogenaamde Operasie Skaakmat.”

City Press het Woensdag berig dat dié verslag glo voorgehou is as 'n “bewys” vir hoekom Zuma Gordhan en Jonas moet terugroep van hul beleggingstoer.



Verslag

In die verslag word Gordhan onder meer van 'n sameswering met internasionale bankiers beskuldig.

Dit lui: “Die bankiers gaan meegedeel word dat die minister van finansies en die tesourie saamstaan teen die president en die korrupsie van die Guptas, en dat die president van plan is om Gordhan en Jonas in die pad te steek.”

Luidens die verslag sal die bankiers gevra word om saam teen Zuma te veg en dat Gordhan en Jonas onder meer die steun van baie in die ANC en in die ander partye het om Zuma uit te skop.

Maynier het gisteroggend gesê bogenoemde is by verre die vreemdste verduideliking vir 'n bisarre opdrag en is presies “die soort gemors wat 'n mens van (die Russiese) pres. Wladimir Poetin sal verwag om op te dis”.

“Niemand by hul volle verstand sal glo dat Gordhan aan geheime vergaderings sal deelneem om die staat omver te werp nie.

“Zuma en sy binnekring van sekurokrate is egter geneig tot sameswering en het ook geen idee van internasionale finansies nie. Dit is dus moontlik dat dié bisarre opdrag die gevolg is van 'n valse intelligensieverslag.”

Volgens Maynier sal hy Dintwe versoek om die bewering te ondersoek, “want ons moet weet of 'n valse intelligensieverslag oor 'n valse intelligensie-operasie enige rol gespeel het in die opdrag om die beleggingstoer te kanselleer”.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer