Zuma gu00e1u00e1n vanjaar se staatsrede lewer
Zuma gu00e1u00e1n vanjaar se staatsrede lewer

Zuma gáán vanjaar se staatsrede lewer

Llewellyn Prince - Pres. Jacob Zuma sal volgende week die staatsrede vir 2018 as president van Suid-Afrika lewer.

Dit is Donderdag bevestig deur Lechesa Tsenoli, adjunk-speaker van die Nasionale Vergadering (NV), in reaksie op ’n vraag of Zuma dit sou lewer en dreigemente deur onder meer die EFF dat die staatsrede weer soos vorige jare s’n in ’n chaos kan verval.

Tsenoli het dit Donderdagoggend gesê toe hy saam met Baleka Mbete, speaker van die NV, Thandi Modise, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, en ander parlementêre amptenare ’n nuuskonferensie by die parlement toegespreek het om die land in te lig oor die parlement se gereedheid om vanjaar se staatsrede, wat vir 8 Februarie geskeduleer is, aan te bied.

Die staatsrede kan dalk pres. Jacob Zuma se laaste wees, veral omdat druk van binne en buite die ANC opbou dat hy as president verwyder moet word nadat adj.pres. Cyril Ramaphosa in Desember as ANC-president verkies is en dit gevolglik twee sentrums van politieke mag in Suid-Afrika se regerende party geskep het.

Die nuuskonferensie kom ook ’n dag nadat die EFF en die DA Woensdag onderskeidelik vir Mbete versoek het dat die staatsrede uitgestel word en dat nog ’n mosie van wantroue in Zuma voor dit ter tafel gelê word.

Julius Malema, EFF-leier, het onder meer Woensdag aan Baleka geskryf dat Zuma “nie toegelaat moet word om die staatsrede te lewer voordat ’n besluit geneem is oor of die parlement steeds die vertroue in hom het om as president voort te gaan nie” en dat ’n dringende parlementêre sitting, waar die wantrouemosie bespreek kan word, nodig is, hoofsaaklik weens die “ernstige politieke verwikkelinge en hofuitsprake”.

Die EFF het gedreig om die staatsrede te ontwrig as Mbete nie gehoor gee aan sy versoek nie.

Mmusi Maimane, DA-leier, het Woensdag op sy beurt gesê soos dinge nou staan, sal dit nie in die beste belang van Suid-Afrika wees vir Zuma om die staatsrede te lewer nie. “Nie terwyl daar groot onsekerheid is oor of hy gaan aanbly as president, en vir hoe lank nie.”

Bantu Holomisa, UDM-leier, het Woensdag ook aan leiers van politieke partye geskryf om te versoek dat hulle Vrydag vergader om onder meer die staatsrede en die wantrouemosie in Zuma te bespreek.

Tsenoli het verder gesê hy en die res van die parlement se topamptenare is nie bewus van enige ander versoeke, ook van die ANC se kant af, dat Zuma nie die staatsrede moet lewer nie.

“Ons het die versoek van die president ontvang om die parlement (deur die staatsrede) toe te spreek en dit is goedgekeur.

“Dit kan nie so wees dat ons die president nie toelaat om die staatsrede te lewer nie, bloot gegrond op ’n dreigement van ontwrigting nie. Die geleentheid moet gerespekteer word omdat dit die drie arms van die staat bymekaar bring.

“Hul veiligheid is ons verantwoordelikheid. Dit is egter burgerlike onverantwoordelikheid van die ergste graad as dit ontwrig word. Ons neem aanstoot en verwerp die dreigement met die minagting wat dit verdien,” het Tsenoli gesê. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer