Zuma-bom ruk SA
Zuma-bom ruk SA

Zuma-bom ruk SA

Suid-Afrika se begrotingstekort beloop reeds R50 miljard.
Pres. Jacob Zuma se skokaankondiging dat honderdduisende studente volgende jaar gratis kan studeer, kan moontlik in sy gesig ontplof as die tesourie nie die geld kan vind om vir die belofte te betaal nie.

Dié aankondiging Saterdagoggend in ’n mediaverklaring deur die presidensie het selfs Malusi Gigaba, minister van finansies, onkant betrap.

Gigaba was Saterdag besig met ’n toespraak op ’n ontbytgeleentheid voor die begin van die ANC-konferensie waarin hy juis gemaan het dat groot opofferings in die land se bestedingsprogramme nodig sal wees, toe Zuma sy verklaring uitreik.

“Ons sal nie gratis onderwys kan toestaan as dit nie fiskaal volhoubaar is nie. Die besonderhede daarvan sal in die begroting in Februarie bekend gemaak word,” het ’n verwarde Gigaba geantwoord toe hy daaroor uitgevra is.

Bronne in die tesourie het later bevestig Gigaba het inderdaad niks hiervan geweet nie.

“Ek dink dit sal in Januarie teruggetrek moet word en stadiger toegepas word,” het ’n onberispelike bron in die tesourie gemaan.

Zuma se skokkende en klaarblyklik eensydige besluit kan hom duur te staan kom, veral as adj.pres. Cyril Ramaphosa tot ANC-president verkies word.

“Dit is ’n taamlik uitgemaakte saak dat Zuma nie veel langer president gaan bly indien Ramaphosa wen nie. Sy aankondiging maak dit nóg dringender. Ons het klaar gespaar en die begrotings­tekort beloop reeds R50 miljard. Die land het reeds ’n enorme prys betaal vir die skade wat aan die geloofwaardigheid van die tesourie aangerig is,” het ’n bron in die Ramaphosa-kamp gesê.

Vroeër is bereken dat dit tussen R40 miljard en R50 miljard gaan kos om gratis tersiêre onderwys moontlik te maak.

Die subsidies wat gister aangekondig is, sal waarskynlik minder kos, maar niemand weet hoeveel nie.

Talle meen Zuma het die aankondiging gemaak om sy voorkeurkandidaat, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, se kanse te probeer versterk.

Die politieke ontleder Ralph Mathekga het gister die aankondiging as ’n “verdeel-en-heers-strategie” beskryf.

“Hy maak dit duidelik dat ’n stem vir Cyril Ramaphosa ’n stem teen gratis onderwys is,” het Mathekga aan News24 gesê.

Zuma se aankondiging beteken gratis hoër onderwys sal van volgende jaar af meer as 90% van Suid-Afrikaanse huishoudings beskore wees.

Klasgelde, verblyf en ander uitgawes sal gratis vir alle studente aan tegniese kolleges wees.

Dieselfde geld universiteitstudente uit huishoudings wat minder as R350 000 per jaar verdien.

Studente uit huishoudings met ’n inkomste van minder as R600 000 per jaar sal ook nie die 8%-verhoging in studiegeld hoef te betaal nie.

Dié aankondiging beteken Zuma het hom nie gesteur aan die Heher-kommissie se waarskuwing dat die land nie omvattende gratis hoër onderwys kan bekostig nie.

Regter Jonathan Heher het gister gesê omvattende gratis hoër onderwys is “reg as die geld beskikbaar is”.

“Ek aanvaar hulle het die geld gevind.”

Senior amptenare in die tesourie het gesê dit kan die staatskas se uitgawes jaarliks met meer as R20 miljard opjaag en het gewaarsku dit sal gefinansier moet word met ’n verhoging van belasting.

Die ekonoom Mike Schüssler sê hy is dronkgeslaan.

“Dis ’n groot besteding wat sommer genoem en gedoen word.”

Hy waarsku dit kan die moontlikheid van verdere kredietafgraderings drasties verhoog.

“Dit is maklik om geld te belowe, maar die ekonomie moet dit terugploeg en die ekonomie is leeggetap.”

Die land het reeds te min geld om sy boeke te laat klop en die tesourie het reeds voor Zuma se aankondiging aangedui hy sal R30 miljard meer moet insamel.

Nog ’n senior tesourie-amptenaar het gister gesê: “Dit was ’n verrassing. Die kabinet was nie betrokke nie; hy het dit op eie houtjie besluit. Dis hoekom Michael Sachs (voormalige begrotingshoof in die tesourie) geloop het.

“Ons sal dit met hoër belasting moet dek, want daar is nie beweegruimte aan die uitgawekant nie. Ons het klaar gespaar en die begrotingstekort beloop reeds R50 miljard.”

Nog ’n senior amptenaar het gesê ­Zuma sal aanvoer hy het die tesourie hieroor gekonsulteer, maar “hy luister nooit na ons nie, hy is ’n populis wat die land vernietig”.

Die amptenare bevraagteken veral ­Zuma se tydsberekening.

“’n Paar baie moeilike besluite moet nou geneem word. Neem jy die geld by behuising? En wat gebeur met BTW? Dis alles dinge wat ons nou moet oorweeg. Jy kan dus verstaan dat ons nie juis verheug is hieroor nie,” het nog ’n amptenaar gesê.

“Dit is politiekery. Hy bult sy spiere en wys hy is steeds president,” sê dr. Piet Croucamp, ’n ontleder aan die Universiteit van Noordwes (NWU).

Croucamp meen die ANC kan hierdeur gedwing word om hom gouer te herroep omdat hy populistiese beloftes maak wat sy opvolger se lewe bemoeilik.

“Maar Zuma sal nie op versoek loop nie. Dit gaan moeilik wees om van hom ontslae te raak.”

Hlengiwe Mkhize, minister van hoër onderwys, het egter beweer die aankondiging kom ná “uitgebreide onderhandelings” waarby onder meer haar kantoor, Gigaba en Jeff Radebe, minister in die presidensie, betrokke was. “Ons het dag en nag gewerk en letterlik gesê: ‘Kom ons wees so realisties moontlik.’”

Sy sê nadat hulle deur die verskillende scenario’s gewerk het, was hulle daarvan oortuig dat die besluit bekostigbaar is.

Volgens haar steun alle senior ANC-leiers die besluit en sal dit ingestel word ongeag wie Zuma opvolg.

Dr. Sizwe Nxasana, voorsitter van die NSFAS-raad, het gesê dit is “baie goeie nuus” vir arm huishoudings.

Die NSFAS het tot dusver net lenings gegee aan studente uit huishoudings wat minder as R122 000 per jaar verdien.

Al dié lenings sal nou in beurse omskep word.

Prof. Ahmed Dawa, hoof van Universiteite Suid-Afrika (USAF), het gesê hulle steun die plan, mits die tesourie seker is dit is volhoubaar.

“Die laaste ding wat ons wil hê, is dat die model oor twee of drie jaar intuimel.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-05-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Premier League: Crystal Palace 4 vs 0 Manchester United SerieA: Udinese 1 vs 1 Napoli | Salernitana 1 vs 2 Atalanta Katima Mulilo: 13° | 33° Rundu: 14° | 33° Eenhana: 15° | 34° Oshakati: 17° | 34° Ruacana: 19° | 35° Tsumeb: 17° | 32° Otjiwarongo: 15° | 31° Omaruru: 19° | 33° Windhoek: 15° | 29° Gobabis: 16° | 30° Henties Bay: 15° | 18° Wind speed: 21km/h, Wind direction: S, Low tide: 10:06, High tide: 04:02, Low Tide: 22:18, High tide: 16:30 Swakopmund: 15° | 17° Wind speed: 25km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:04, High tide: 04:00, Low Tide: 22:16, High tide: 16:28 Walvis Bay: 15° | 21° Wind speed: 28km/h, Wind direction: SW, Low tide: 10:04, High tide: 03:59, Low Tide: 22:16, High tide: 16:27 Rehoboth: 18° | 30° Mariental: 22° | 32° Keetmanshoop: 18° | 32° Aranos: 20° | 32° Lüderitz: 12° | 22° Ariamsvlei: 16° | 31° Oranjemund: 10° | 18° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 14° | 29° Lubumbashi: 15° | 28° Mbabane: 14° | 30° Maseru: 11° | 26° Antananarivo: 11° | 22° Lilongwe: 16° | 27° Maputo: 17° | 31° Windhoek: 15° | 29° Cape Town: 13° | 16° Durban: 20° | 33° Johannesburg: 17° | 25° Dar es Salaam: 23° | 30° Lusaka: 15° | 28° Harare: 13° | 27° #N/A #N/A