Zim-toerspan het ervare kaptein
Zim-toerspan het ervare kaptein

Zim-toerspan het ervare kaptein

Krieket
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Kan Zimbabwe se volgende geslag krieketspelers in Windhoek slaag waar Suid-Afrika enkele maande gelede gefaal het?

Die Ontluikende Zimbabwe-span het gistermiddag in Windhoek aangekom vir sy reeks van drie T20-wedstryde en drie 50-beurt eendagwedstryde teen Gerhard Erasmus se Namibiese Eagles.

Al die wedstryde word by Wanderers in Pionierspark gespeel – eerstens die T20-wedstryde môre, Sondag en Maandag.

Die Namibiërs het in Aprilmaand, voordat die wêreldwye pandemie opnuut hier toegeslaan en alle spansportbedrywighede tot stilstand gedwing het, die reekse van drie T20's en drie eendagwedstryde teen die Ontluikende Suid-Afrikaanse span ingepalm.

Suid-Afrika en Zimbabwe is beide volwaardige toetsspelende lande met tradisioneel sterker krieketkultuur as Namibië – maar onder afrigter Pierre de Bruyn is die Eagles altyd gereed om veglustige krieket teen enige opponent te speel.

Erasmus en sy manne is inderdaad aan die slyp om in Oktober die land se debuut by die T20 Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate te gaan maak. Vir sowel die span as die individuele spelers is die volgende twee weke se aksie dus van groot belang om weer behoorlik en voluit op dreef te kom.

Die Zimbabwiërs se kaptein is Chamunorwa Chibhabha, wat volgende maand 35 jaar oud word en sedert sy internasionale debuut in 2005 reeds die wêreld se ondervinding het. Die veelsydige speler en topklas veldwerker het Zimbabwe sover in drie toetse, 107 eendagwedstryde en 36 internasionale T0's verteenwoordig.

Die res van sy toerspan is: Emmanuel Bawa, Brian Chari, Brian Mudzingan­yama, Kevin Kasuza, Carl Mumba, Tanaka Chivanga, Tinashe Nenhunzi, Ainsley Ndlovu, Nicholas Welch, Tadiwanashe Nyangani, Tendekai Mataranyika, Brian Bennett, Steven Saul, Faraz Akram, Richmond Mutumbami.

Zimbabwe bevind hom steeds in Covid-inperkings en gevolglik was daar tot gister selfs in die buurland 'n mate van onsekerheid of die toer wel sou plaasvind. Gistermiddag se aankoms in Windhoek het egter die werklikheid tuisgebring.

Geen toeskouers sal by die Wanderers toegelaat word nie, maar elkeen van die ses wedstryde sal regstreeks en volledig op NBC (kanaal 283) vertoon word; ook op Krieket Namibië se Facebook en YouTube.

Die Namibiese Eagles-spelersgroep: Gerhard Erasmus (kaptein), Stephen Baard, Karl Birkenstock, Michau du Preez, Shaun Fouché, Jan Frylinck, Zane Green, Nicol Loftie-Eaton, Dewald Nell, Mauri­tius Ngupita, Bernard Scholtz, Ben Shikongo, JJ Smit, Ruben Trumpelmann, Michael van Lingen, Craig Williams, Picky ya France.

FOTO
Die Ontluikende Zimbabwe-span se ervare kaptein Chamunorwa Chibhabha – hier in aksie in ’n T20-wedstryd teen Indië in Harare in Junie 2016. Foto AFP via Getty Images

Kommentaar

Republikein 2025-06-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer