Zim en grond nie op agenda
'n Senior minister het gister bevestig die SADC-beraad, wat tans in Windhoek plaasvind, gaan nie op Zimbabwe óf grond fokus nie.
Denver Kisting
Die adjunkpremier, me. Netumbo Nandi-Ndaitwah, het gister bevestig die Zimbabwe-vraagstuk gaan nie tydens die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) se beraad bespreek word nie.
Dié streekvergadering het gisteroggend in Windhoek afgeskop.
Volgens Nandi-Ndaitwah, ook die minister van internasionale betrekkinge en samewerking, word politieke aangeleenthede by 'n ander SADC-liggaam, gemoeid met politiek, verdediging en veiligheidsamewerking, bespreek.
Die huidige Windhoek-beraad het nie ten doel om dié sake te pak nie, sê sy.
Eweneens gaan die gronddebakel, wat veral tans in Suid-Afrika woed, ook nie ter sprake kom nie, sê sy.
In aanloop tot die tweede nasionale grondkonferensie in Namibië word allerweë aanvaar die omstrede onteiening sonder vergoeding sal op die agenda wees.
sa posisie nie onder loep
Die Suid-Afrikaanse staatshoof, pres. Cyril Ramaphosa, by wie pres. Hage Geingob as SADC-voorsitter oorneem, is op rekord dat sy land grond sonder om daarvoor te vergoed sal onteien.
Nandi-Ndaitwah se bevestiging gister eggo die standpunt van 'n plaaslike politieke ontleder en regsdosent, prof. Nico Horn.
Horn het die afgelope week by navraag aan Republikein gesê hy twyfel of omstrede brandpunte, wat die streek tans teister, bespreek gaan word.
Nandi-Ndaitwah het gister gesê streekintegrasie en ekonomiese bemagtiging is die kernfokus in die lig van die tema van die 38ste beraad wat met die bevordering van infrastruktuurontwikkeling en jeugbemagtiging verband hou.
Eerskomende naweek kom finansies, beleggings, doeane en nywerheidsontwikkeling, en handel aan die bod.
Hiernaas word die plaaslike en streekmedia ook dié naweek na verwagting op die hoogte gebring van verwikkelinge rondom kos, landbou en natuurlike hulpbronne.
Sondagmiddag word 'n nuuskonferensie luidens die program belê oor politiek, verdediging en veiligheidsamewerking.
Volgens amb. Selma Ashipala-Musavyi, permanente sekretaris van internasionale betrekkinge en samewerking, is daar 'n noue verband tussen infrastruktuurontwikkeling en die bemagtiging van die jeug.
Sy sê dié twee elemente is ook noodsaaklik om die SADC in staat te stel om nywerheidsontwikkeling te dryf.
Sy het dié opmerkings tydens gisteroggend se opening gemaak.
Pres. Hage Geingob het verlede week gesê die jeug suig steeds aan die agterspeen wat werkskepping betref.
Luidens die jongste werkloosheidsyfers staan die land se werkloosheid op 37%, terwyl nagenoeg 40% van die jeug sonder werk sit, het Geingob gesê. Volgens hom hou dié toedrag van sake reuse-uitdagings vir veral beleidmakers in.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie