Zenatha deur beter Spaanse klub gewerf
Zenatha deur beter Spaanse klub gewerf

Zenatha deur beter Spaanse klub gewerf

Vrouesokker
NAMPA
Namibië se voorste vrouesokkerspeler Zenatha Coleman het 'n kontrak beklink om vir die volgende twee seisoene vir die Spaanse klub Valencia te speel.

Volgens aanlyn mediaberigte gister het die doelskieter van die Namibiese nasionale span, die Brave Gladiators, na Valencia aanbeweeg nadat haar vorige klub in Spanje, Zaragoza CCF, aan die einde van die vorige seisoen gerelegeer is.

Coleman is die derde speler wie se handtekening Valencia vir die nuwe seisoen verkry het, benewens Monica Flores en Jucinara Soares.

Die 24-jarige Coleman kan as 'n doelskieter op beide die linker- of regtervleuel speel.

Haar talent het byna vingeralleen vir Zaragoza van relegasie gered. Sy het sewe doele in vyftien wedstryde aangeteken nadat sy halfpad deur die vorige seisoen by hulle aangesluit het.

“Ek kom na Valencia omdat ek seker voel ons kan groot dinge saam bereik. Die hele klub se opset het my oortuig,” het Coleman volgens die aanlyn berigte gesê.

Die Namibiër sal meeding met spelers soos Mari Paz, Marta Peiró Giménez, Marianela Szymanowski, Anair Lomba Álvarez, Andrea Esteban Catalán en Nadezhda Kárpova om in die komende seisoen aan die voorpunt van Valencia se aanval diens te doen.

Valencia het die vorige seisoen in die vyfde plek afgesluit met 50 punte ná 30 wedstryde. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer