Ysterperde brul ten bate van kanker
Ysterperde brul ten bate van kanker

Ysterperde brul ten bate van kanker

Gesondheid
Tanja Bause
Tanja Bause – Sowat 200 motorfietsryers het Saterdag deur die hoofstraat van Windhoek ten bate van die Kankervereniging van Namibië (CAN) gedreun.

Die vrou agter die gedagte om op dié manier geld vir CAN in te samel, was me. Bianca Engelbrecht.

“Ek is in 2018 met borskanker gediagnoseer en in 2021 is ek skoon verklaar. Ek het ook al verlede jaar geld vir CAN ingesamel, maar vandag se gebeure oorskry my stoutste verwagtinge,” het sy gesê.

Volgens mnr. Rolf Hansen van CAN het die H.O.G. Namibia Chapter N$10 000 ten bate van CAN se uitreikprogram oorhandig.

“Die geld is bedoel sodat ons oor die hele land gratis klinieke vir ons minderbevoorregte gemeenskappe kan aanbied. Ons het verlede week drie dae lank klinieke aangebied waar ons oor die 400 vroue vir borskanker en servikale kanker getoets het. Ons het gevalle gehad waar talle jong vroue onreëlmatighede in hul borste het en dis hoekom dit so belangrik is dat Namibiërs hande vat in die stryd teen kanker,” het hy gesê.

Volgens mnr. Dirk Kleinschmidt van die H.O.G. Namibia Chapter was dit een van die grootste byeenkomste van motorfietseienaars en aanhangers wat vir een doel bymekaar gekom het.

“Dis een van die min kere dat motorfietsryers van verskillende verenigings, gemeenskappe en klubs aan so ’n gesamentlike massarit deelgeneem het. Ons wil dit jaarliks doen en doen ’n beroep op alle motorfietsryers van oor die land heen om deel te wees hiervan.”

Kommentaar

Republikein 2025-05-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer