Yster Miller staan sy man in Japan

Olimpiese Spele
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die jonge Alex Miller (20) het gisteroggend by die Izubergfietspark in Japan die Namibiese bergfietsgemeenskap opgewonde gemaak met sy 31ste posisie by die Olimpiese Spele.
Miller het die 28.25 kilometer (sewe rondtes van 3.85 km) nege minute stadiger as Thomas Pidcock, die wenner van Brittanje, in 1 uur 34 minute 26 sekondes voltooi.
Die 21-jarige Pidcock, verlede jaar se o.23-wêreldkampioen en jongste Olimpiese titelhouer in die geskiedenis, het die goue medalje in 1:25:14 opgeraap met die Switser, Mathias Flueckiger (32), tweede in 1:25:34. Die bronsmedalje behoort aan Spanje se David Valero Serrano (32) wat in 1:25:48 met agt sekondes voor Switserland se legendariese kampioen van Rio 2016, Nino Schurter (35), oor die eindstreep gery het.
Die Namibiër, in wegspringposisie 37, was die jongste van die 38 gekwalifiseerde deelnemers. Om sy eerste Olimpiese Spele te haal en klaar te maak sonder om onttrek te word omdat die voorlopers hom van agter inhaal, was op sigself ’n massiewe prestasie vir die heersende nasionale kampioen. Vandaar sy feesviering om op sy agterwiel oor die eindstreep te ry.
Op ’n baie tegniese baan moes ryers hard vir elke posisie veg op ’n roete wat hulle min kans gegee het om mekaar verby te steek.
Miller word tans deur fietsry se wêreldbeheerliggaam (UCI) as hul 77ste beste marathonryer gereken.
Weens ’n gebrek aan veldkompetisies het hy op dié wêreldranglys 526 posisies verloor en is tans nommer 693. In hom en Tristan de Lange (176ste) het Namibië twee talentvolle ryers wat steeds baie op die wêreldverhoog kan vermag. Ryers soos die 18-jarige Bergran Jensen en 19-jarige Hugo Hahn is ewe bedrewe en vol belofte.
Miller het ná gister se resies gesê: “Dit was van die begin af ’n taai stryd, want die hitte (31 Celsius) en humiditeit (63%) was ’n groot faktor. Ek het ’n goeie wegspring gehad, maar ’n paar foute in die tweede en derde rondte het my posisies gekos. Ek het toe besluit om eerder ’n goeie ritme te handhaaf.
“Die weer was nie te sleg nie. Dit het nie gereën nie, maar die humiditeit was veel hoër as wat ek sou verkies het. Die baan was droog en baie stowwerig, maar andersins was dit groot pret.
“Ek kon seker ’n bietjie beter gevaar het, maar dis my eerste Olimpiese Spele en ek is heel tevrede met die uitslag. Ek wil my spanmaats asook Hans du Toit en Mannie Heymans in Japan, asook my familie en vriende tuis vir hul steun bedank. “Dis altyd baie spesiaal om jou land
internasionaal te verteenwoordig. Die Japanse ondersteuners langs die baan was ongelooflik en die Japanner by die eindpunt met ’n Namibiese vlag was die kersie op die koek.”
Suid-Afrika se Alan Hatherly, die kontinentale kampioen, het ná ’n gevoelige terugslag toe hy vroeg van die baan gedruk is, stelselmatig sy pad opgewerk en agtste geëindig.
MICHELLE VORSTER
Michelle Vorster (42) sal vandag vanaf 08:00 Namibiese tyd by dieselfde Izu-baan in die vroueresies in aksie wees. Sy sal net soos Miller in die 37ste posisie (uit 38) wegspring.
Sy en Candice Lill (29) van Suid- Afrika is die enigste Afrikane.
Anders as by die mans word verwag dat reën ’n groot faktor kan wees.
Vorster was by die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro 26ste in dié dissipline. Vorster het op Facebook geskryf: “Hulle sê geniet dit; ek sê ek sal. Hulle sê dit is bloot nog ’n resies; ek sê ja natuurlik is dit. Hulle sê lewer net jou beste; ek sê hopelik vang jy my nooit dat ek nie my beste lewer nie.
“Ek is opgewonde, bevoorreg en baie gemotiveerd. Baie dankie vir elke bemoedigende woord. Ek sien dit raak en waardeer dit geweldig! Baie dankie aan my span en Hans du Toit, ons spanbestuurder en afrigter. Dankie dat jy my regterhand is. “Dit is besigheid soos gewoonlik met dié bergfietsresies en ek is so gereed as kan kom.”
Pauline Ferrand Prevot (Frankryk) sal voor wegspring met Rebecca McConnell (Australië, 2de), Anne Terpstra (Neiderland, 3de), Jolanda Neff (Switserland, 4de) en Loana Lecomte (Frankryk, 5de) warm op haar spoor.
Jacqueline Mourao (45) van Brasilië sal die oudste ryer wees, gevolg deur Vorster, Catharine Pendrel van Kanada en Erin Huck van die VSA (beide 40). Die jongste ryer is Kata Blanka Vas van Hongarye (19).
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer