Wêreldtitel in derde gewigsklas wink
Ondanks 'n “bemarkingsfoefie” word benadruk dat Paulus Ambunda se herontmoeting in Singapoer gewis voortgaan.
Andrew Poolman
Namibië se enigste heersende wêreldbokskampioen, Paulus Ambunda (El Jesus), se volgende geveg is steeds aan, ondanks sy opponent Muhamad Ridhwan van Singapoer se inskrywing op sosiale media dat hy sy handskoene opgehang het.
Ambunda en Ridhwan se loopbane as beroepsboksers word beide deur Ringstar Promosies van Singapoer bestuur. Die twee is bestem om op 29 Maart vir die Wêreldboksraad (WBC) se veergewig “silwer” (tussentydse) titel deur die kryttoue te klim.
Die 31-jarige Ridhwan word as Singapoer se voorste bokser beskou en het Vrydag sy ondersteuners laat gons met 'n inskrywing op Facebook met die opskrif “Die einde van die pad het aangebreek”.
Hy skryf: “Hallo almal. Raai wat? Alle goeie dinge kom tot 'n einde. Dit was pret so lank as wat dit voortgeduur het. Ek het genoeg gehad. Ek tree uit.”
Volgens die Straits Times in Singapoer het die promotors Ringstar egter dié nuus afgelag en gesê hul bokser sal soos beplan in die komende week na die Filippyne vir 'n oefenkamp reis.
Ambunda se afrigter, Imms Moses, het gister ook die nuus afgemaak as 'n foefie van Ridhwan se kant om die komende herontmoeting teen die Namibiër te bemark.
Ambunda het hul eerste geveg in September verlede jaar met redelike oortuiging met punte gewen, ondanks die feit dat een van die drie tellinghouers die Singapoerees aan die wenkant gehad het.
Met dié oorwinning het Ambunda (27 gewen, twee verloor, 14 uitklophoue) die Internasionale Boksorganisasie se superkapokgewigtitel (55.34 kilogram) verower.
Ridhwan, bekend op die bynaam “The Chosen Wan”, was onoorwonne totdat hy hom in sy 12de beroepsgeveg teen Ambunda vasgeloop het. Die herontmoeting word in sy land se media opgeblaas as die grootste geveg waarby enige bokser van Singapoer nóg betrokke was.
Ridhwan het tevore as veergewig en selfs superveergewig (58.97 kg) geboks, waar hy onoorwonne is en onder andere in 2017 'n puntesege teen die grootliks onbekende Namibiër Nataneal Sebastian (10-1) in Singapoer op sy kerfstok het.
DRIE GEWIGSKLASSE
'n Sege in April sal die 38-jarige Ambunda die tweede Namibiër maak wat “wêreldtitels” in drie gewigsklasse verower. Ambunda het in 2013 die vakante WBO kapokgewigtitel (53.5 kg) teen Panya Uthok van Thailand gewen en dit later daardie jaar teen Tomoki Kameda van Japan verloor.
In 2015 het Ambunda egter opgeskuif om die IBO-gordel as superkapokgewig te wen. Die komende geveg in April sal die eerste van sy loopbaan as veergewig (57.15 kg) wees.
Met dié prestasie volg hy in die voetspore van Harry Simon, wat titels as junior middelgewig (1998) en middelgewig (2001) verower het voordat 'n motorongeluk en regsprobleme sy loopbaan onderbreek het. Simon het egter teruggekeer om in 2013 die IBF se internasionale ligswaargewigtitel teen Geard Ajetovich te wen.
Volgens Moses sal Ambunda nie van die IBO-gordel afstand doen nie. Sodra hy weer met Ridhwan afgereken het, sal die bokser kan besluit op watter gewigsklas hy dan wil fokus om sy titel te verdedig.
“Ons (AC Boxing Gym) is die enigste gimnasium in die land wat tans 'n wêreldkampioen het, hoewel ons nie deur enige borg gerugsteun word nie,” sê Moses.
“Hierdie WBC-gordel is ook 'n gesogte een wat tevore onder andere deur Canelo (Saul Alvarez) gehou was. Ambunda kan die eerste Namibiër word wat 'n WBC-titel verower.”
Kaartjies vir Ridhwan versus Ambunda II sal glo vanaf komende Vrydag te koop wees.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie