Wêreldrugby vereer twee Blitsbokke

Rugby
Marnus Kok – Die Blitsbokke Selvyn Davids en JC Pretorius se goeie vertonings die afgelope seisoen is beloon toe hulle in Wêreldrugby se “Droom-sewesspan” ingesluit is.
Die internasionale rugbybeheerliggaam het Maandag verskeie pryse toegeken aan diegene wat die seisoen kop en skouers bo die res uitgestaan het.
Die ander vyf spelers saam met Davids (26) en Pretorius (22) in die span is Scott Curry (Nieu-Seeland), Tavite Veredamu (Frankryk), Napolioni Bolaca (Fidji), Jordan Conroy (Ierland) en Aminiasi Tuimaba (Fidji).
Die twee Blitsbokke kan trots voel op hul insluiting in die groep, wat deur ’n paneel bestaande uit oud-sewesspelers en kommentators gekies is.
Suid-Afrika het die reeks in die tweede plek afgesluit, met die Kiwi’s wat met die louere weggestap het.
Davids, ’n spelskepper, se statistieke vir die seisoen wat in Maart weens die Covid-19-pandemie kortgeknip is, spreek vanself.
Dié boorling van Jeffreysbaai was die Blitsbokke se voorste puntevraat met 109 punte, wat uit 11 drieë en 27 doelskoppe bestaan het. Boonop het hy 52 lopies ingekry – met slegs Pretorius se 53 wat meer vir die Blitsbokke was.
Pretorius, ’n voorspeler wat die eerste lewenslig in Secunda aanskou het, het 13 keer die doellyn oorgesteek en boonop 41 duikslae in 27 wedstryde uitgevoer.
“Dit is onverwags en ’n droom wat waar word,” sê Davids.
“Jy sal altyd krediet aan jou spanmaats gee wanneer jy vereer word en dit is net soveel aan hul moeite as my eie te danke. Hulle het op ’n enorme manier bygedra en ek wil hulle daarvoor bedank.”
Vir Davids was die toernooisege in Los Angeles die hoogtepunt van sy seisoen. Die Blitsbokke het Fidji daar in die eindstryd met 29-24 geklop, toe Sako Makata in bykomende speeltyd oorgeduik het.
“Ek was nie meer op die veld toe ons gedruk het om bykomende speeltyd af te dwing nie en toe ons die wendrie druk – dit was ’n ongelooflike gevoel.”
Vir Pretorius was die hoogtepunt van sy seisoen om in 2019 op plaaslike bodem in die gewilde Kaapstad-toernooi in aksie te wees.
“Om die eerste keer voor ons tuisskare in aksie te wees, was ’n spesiale oomblik vir my.
“Dit was een van my drome om in hierdie span ingesluit te word, maar ek is steeds ’n bietjie verbaas,” sê Pretorius.
“Die werklikheid is nog besig om in te sink, maar ek geniet elke oomblik hiervan. Ons is ’n span waar almal bydra, so dit is ook ’n prys vir die res van die span. Ek wil dus almal hiervoor bedank.”
– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-12-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer