Wêreldreisiger op 'n ysterperd
Me. Anna Grechishkina van die Oekraïne toer al drie jaar lank die wêreld op haar motorfiets plat.
Tanja Bause - Stoksielalleen op haar motorfiets maak sy haar kleintyddroom waar.
Me. Anna Grechishkina het in 2013 uit Kiëf in die Oekraïne met haar motorfiets op 'n wêreldtoer vertrek. Tot op hede het sy al deur 30 lande, waaronder Rusland, Asië, Australië, Noord- en Suid-Amerika en Suid Afrika gery.
“Ek het van kleins af daarvan gedroom om deur die wêreld te toer. Ek het net nie gedink dit gaan met 'n motorfiets wees nie,” vertel Grechishkina.
Sy is reeds die afgelope 12 jaar 'n ywerige motorfietsentoesias wat voor haar wêreldreis verskeie kort toere deur Europa onderneem het.
“Die droom om deur die wêreld te toer, het bly kop uitsteek, maar ek was baie bang en het die idee weggebêre. Dit was nie maklik nie, want elke keer as ek van die idee begin praat het, het mense my vertel ek is mal, ek gaan verkrag en vermoor word. Eindelik het ek besluit ek móét dit net doen,” vertel Grechishkina.
Sy het op 27 Julie 2013 met U$1 000 in haar sak uit Kiëf vertrek.
“Die eerste stap was die moeilikste. Ek het gedink ek sal kyk hoe ver ek kom. As ek dan net 'n paar lande kon besoek en sien dat ek nie meer kan aangaan nie, sou ek omdraai en huis toe gaan. Maar dis meer as drie jaar gelede en ek toer steeds!”
Grechishkina het 'n Facebook-blad, “Female world trip on motorcycle”, begin.
Mense het haar begin volg en in amper elke land waardeur sy toer, is daar mense wat haar nooi om by hulle te oornag.
Sy skryf artikels vir motorfietstydskrifte, terwyl haar geldinsamelingsbladsy haar ook help om haar droom te bly volg.
Grechishkina se bagasie weeg 100 kg en sluit haar tent en kampgoed in. Nie dat sy dit al baie gebruik het nie.
“Ek oornag gewoonlik by plaaslike inwoners. Op my hele toer tot dusver was ek nog nooit bang of in enige gevaarlike situasie gewees waar ek vir my lewe of my aardse besittings gevrees het nie,” het sy gesê.
Vir haar is dit belangrik om die plaaslike mense se kulture en gebruike te leer ken.
Sy benadruk dat sy baie versigtig is.
“Ek bly op hoofpaaie en ek sal nooit sonder 'n lid van die gemeenskap 'n plek soos Katutura gaan besoek nie.”
Grechishkina lewer praatjies by skole om kinders aan te moedig om hul drome te volg.
“As jy 'n droom het, moet jy alles in jou vermoë doen om dit te volg. Jy hoef nie ryk te wees nie, jy moet net die eerste stap vat en in jou droom glo,” het sy gesê.
In Brasilië het Grechishkina besef sy het reeds meer as 100 000 km gery en dat sy met haar reis moontlik die Guinness World Records kan haal. Die huidige rekord vir 'n vrou wat alleen deur die wêreld reis, staan op sowat 200 000 km.
“Ek het gedink ek kan die rekord dalk breek omdat ek nou al sowat 115 000 km gery het, maar dis nie belangrik nie. Die belangrikste deel van my reis is om al die verskillende, wonderlike mense met wie ek die aarde deel, te ontmoet.”
Grechishkina kuier tans op Swakopmund. Sy het eers die suide van die land besoek en ná haar besoek aan Swakopmund, pak sy die pad Noorde toe aan.
Vandaar sal sy deur Afrika ry en beplan om haar Afrika-reis in Egipte af te sluit.
'n Droom is om deur die Midde-Ooste te toer en Anna wil veral graag deur die Arabiese Emirate tot by Oman ry.
“Vroue mag nie in die Verenigde Arabiese Emirate bestuur nie ,so ek moet nog aan 'n plan dink. Ek sal miskien die motorfiets op 'n vragmotor laai en dan eers weer in Oman self verder ry.”
Grechishkina het geen idee wanneer haar wêreldtoer tot 'n einde sal kom nie.
“Ek het geen nabye familie meer nie, so my reis is nie tydsgebonde nie. Eendag sal ek weer Kiëf toe gaan om my reis amptelik daar te eindig.
“Maar ek wil nie daar woon nie. Ek wil nie te lank op een plek wees nie.
“So 'n toer is soos 'n dwelm, jy raak verslaaf en kan nêrens wortel skiet nie.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie