Wu00eareld moet waak teen hou00eb seevlakke teen 2050
Wu00eareld moet waak teen hou00eb seevlakke teen 2050

Wêreld moet waak teen hoë seevlakke teen 2050

Volgens C40 Cities, wat 96 wêreldstede met mekaar verbind, kan stygende seevlakke teen 2050 ’n vernietigende uitwerking op Suid-Afrika hê.
Elise Tempelhoff

Aggressiewe optrede nodig

Durban, Kaapstad, George, die Paarl, Uitenhage, Oos-Londen en Port Elizabeth is die Suid-Afrikaanse stede en dorpe wat deur die uitwerking van klimaatsverandering bedreig word – mits die vrystelling van kweekhuisgasse betyds verminder word.

Dit is van die bevindings wat opgeneem is in ’n navorsingsverslag getiteld “The Future We Don’t Want – How Climate Change Could Impact the World’s Greatest Cities”.

Luidens die verslag is “aggressiewe optrede rakende die klimaat” nodig om te voorkom dat 800 miljoen mense wat in 570 kusstede woon, aan stygende seevlakke blootgestel word; 1,6 miljard mense aan versengende hittegolwe; en sowat 650 miljoen aan voortslepende droogtes.

Die verslag is Dinsdag deur C40 Cities, Global Covenant of Mayors for Climate & Energy, the Urban Climate Change Research Network (UCCRN) en Acclimatize uitgereik.

Volgens C40 Cities, wat 96 wêreldstede met mekaar verbind, kan stygende seevlakke teen 2050 ’n vernietigende uitwerking op Suid-Afrika hê.

Luidens ’n verklaring van C40 is miljarde mense oor die wêreld heen kwesbaar vir klimaatsverwante hittegolwe, droogtes, voedseltekorte, kragonderbrekings en groter maatskaplike ongelykheid.

“Gelukkig is daar stede wat reusagtige treë gee en hul bes doen om oplossings te vind en kweekhuisgasse te beperk om só ’n voorspoedige toekoms vir hul inwoners te skep,” lui die verklaring.

Luidens die verslag sal 970 stede wêreldwyd teen 2050 gemiddelde somertemperature van 35 ºC ervaar. In hierdie stadium ervaar sowat 354 stede wêreldwyd hierdie hoë somertemperature. Die stedelike bevolkings wat aan hierdie versengende hitte blootgestel sal word, sal teen 2050 met 800% toeneem tot 1,6 miljard mense. Die verslag wys daarop dat Kaïro, Egipte se hoofstad, byvoorbeeld ’n gemiddelde somertemperatuur van 34 ºC het. Die afgelope tyd het die kwik in die stad al tot 48 ºC gestyg.

Kimberley in die Noord-Kaap is een van die Suid-Afrikaanse stede wat uitgesonder word en wat kwesbaar is vir hittegolwe.

“Hittegolwe dreineer die ekonomie, en die wêreldwye ekonomiese koste verbonde aan laer produktiwiteit kan teen 2030 miljarde rande beloop,” lui die verslag.

650 miljoen mense in 500 wêreldstede, soos Kaapstad, word deur watertekorte in die gesig gestaar.

Patricia de Lille, Kaapstad se burgemeester, het Dinsdag gesê: “Klimaatsverandering gebeur reeds. Kaapstad ervaar ’n ongekende droogte, maar danksy die inwoners se vermoë om aan te pas, het ons Dag Zero vrygespring.”

Antha Williams, hoof van die omgewingsprogram van Bloomberg Philantrophies en ’n C40-lid, sê: “Burgemeesters moet aan die voorpunt van die bekamping van klimaatsverandering wees. Hulle moet dadelik sorg dat minder energie in geboue en skoner vorme van vervoer gebruik word en dat hul stede se uitset van vullis drasties verminder.”

Williams sê die uitwerking van klimaatsverandering is nie net die toekoms se bedreiging nie. “Van Kaapstad tot Houston sien ons reeds geweldige storms, droogtes, brande en vele meer.”

Die verslag is uitgereik op die Adaptation Futures-konferensie wat tans in Kaapstad gehou word. Meer as 1 000 verteenwoordigers van oor die wêreld heen is tot vandag in die stad vir gesprekke oor hoe om klimaatsverandering te hanteer. –Netwerk24

GRYSBLOK

Die verslag lui voorts:

· 2,5 miljard mense sal teen 2050 in meer as 1 600 stede woon en knaende voedseltekorte ervaar.

· 215 miljoen armoediges wat tans in krotbuurte in 490 stede woon, sal al hoe meer aan klimaatkrisisse blootgestel word.

· 470 miljoen mense in meer as 230 stede sal weens die hoër seevlakke kragonderbrekings ervaar.

GRYSBLOK

Só beskerm stede reeds hul inwoners:

· Uiterste hitte: Seoel in Suid-Korea het 16 miljoen bome aangeplant en sy “groen longe” met 3,5 miljoen vierkante meter uitgebrei. Die stad het ook skaduplekke opgerig vir mense wat nie toegang tot lugverkoeling het nie.

· Vloede: New York het sy kusgebied gekarteer en is besig om versterkings teen die styging van die seevlak aan te bring.

· Droogte: Sao Paulo in Brasilië het ’n skema ingestel om sy inwoners te beloon as hulle hul waterverbruik verminder.

· Voedselsekerheid: Parys in Frankryk beplan ’n stedelike landbousone van 33 hektaar binne die stadsgrense. Teen 2050 behoort 25% van die stad se kos plaaslik geproduseer te kan word. Londen is besig om sy stormwaterinfrastruktuur te moderniseer om die risiko’s van oorstromings en kragonderbrekings te beperk.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer