Wolff dink sy boek kan Trump se einde beteken
Wolff dink sy boek kan Trump se einde beteken

Wolff dink sy boek kan Trump se einde beteken

In ‘n nuwe boek oor Donald Trump se eerste jaar as president van Amerika, word aangevoer hy is nie geskik vir dié pos nie.
Michael Wolff, skrywer van die hoogs kritiese boek oor die eerste jaar van Donald Trump se Amerikaanse presidentskap, meen die onthullings in sy boek kan ’n einde aan Trump se tyd in die Withuis bring.

Wolff het Saterdag op BBC-radio gesê sy afleiding in Fire and Fury: Inside the Trump White House, dat Trump nie geskik is om die Amerikaanse president te wees nie, is besig om ’n wydverspreide mening te word.

“Ek dink een van die interessantste gevolge van die boek is die keiser-is-kaal-effek,” het Wolff Saterdag gesê.



“Die storie wat ek vertel het, kleur die huidige situasie só dat dit daarop neerkom dat hy nie geskik is vir die werk nie.

“Skielik is daar oral mense wat sê ‘O, my aarde, dit is waar, hy is kaal.’ Dit is die agtergrond van dié persepsie en die begrip wat uiteindelik die einde van dié presidentskap sal beteken.”

Trump het die boek afgemaak as ’n spul leuens.

In die boek skets Wolff ’n chaotiese Withuis, ’n president wat nie goed voorbereid was vir die presidentskap nie en Trump-amptenare wat nie veel van Trump se vermoëns dink nie.



Trump het soos gebruiklik op Twitter teruggekap na Wolff en sy voormalige raadgewer Steve Bannon, wat in die boek aangehaal word.

“Michael Wolff is ’n algehele verloorder wat stories opgemaak het sodat hy dié werklik vervelige en leuenagtige boek kan verkoop. Hy het van Sloppy Steve Bannon gebruik gemaak, hy het gehuil toe hy afgedank is en gepleit om sy werk te hou. Nou is Sloppy Steve deur feitlik almal uitgeskop,” het Trump getwiet. Sleg, né?

Bannon was voorheen Trump se hoofraadgewer en is die voorsitter van die sogenaamde regse Breitbar-nuuswebwerf.

Op die vraag of Wolff dink Bannon het gevoel Trump is nie geskik vir die presidentskap nie, het Wolff “ja geantwoord.

Wolff het ook teruggekap teen bewerings dat sy boek onwaarhede bevat.

“Dit is wat ’n mens verslaggewing noem. Dit is hoe jy dit doen. Jy vra vrae aan mense, jy kom so na as moontlik aan die voorval, jy voer onderhoude met mense wat by die voorval betrokke was, jy voer onderhoude met nog mense wat ook by die voorval betrokke was, dan begin jy die omstandighede en almal wat by die voorval betrokke is, verstaan. En dan doen jy verslag daaroor." – Netwerk24/Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-05-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer