Woekerspel lewer topresultate by kus

Tennis
Tielman van Lill
Tielman van Lill

Die Namibiese Tennisvereniging het die afgelope naweek sy Swakopmund Ope-tennistoernooi vir enkel-, sowel as dubbelspel vir mans en vroue oor vier dae aangebied.

Dié gewilde jaarlikse kompetisie wat deur die Internasionale Tennisfederasie (ITF) ondersteun is, het van 17 tot 20 Desember geduur waar plaaslike en buitelandse spelers hul merk kon maak.

By die vroue het nege deelnemers ingeskryf waarvan vier juniors was. Hulle is Raica Coelho, Megan Lombard, Lissa Yssel en Taimi Nashiku. Die gerekende Lesedi Jacobs, wat aan die Universiteit van Kentucky studeer en vir hul eerste tennisspan speel, se ondervinding en talent was te veel vir die plaaslike uitdagers en gas suid van die Oranjerivier.

Jacobs wat in die finaal teen Linique Theron, die verdedigende kampioen uit Suid-Afrika, gespeel het, het maklik die eerste gekeurde Theron oorrompel. In die vroue-dubbelspelfinaal oorskadu Jacobs en Nashiku vir Theron en Coelho met 3-6, 6-3 en 10-8 in ’n spannende valbylpot.

Vir die mansafdeling het heelwat meer spelers ingeskryf met 19 enkelspel- en 24 dubbelspelbotsings. Die jongste deelnemer was 14, terwyl ’n 50-jarige veteraan nie opsy gestaan het nie.

Risto Shikongo, wat vierde gekeur was vir dié toernooi, en George Louw, het mekaar in die enkelspelfinaal getakel. Shikongo het die eerste stel gerieflik met 6-1 ingepalm. Louw vind sy tweede asem om Shikongo opdraend te gee, maar verloor die tweede stel met 7-5.

Die veterane, Horst Theo Jauss en Michau Basson, is te goed vir SP van Wyk en Dantago Gawanab in die dubbelspelfinaal om die trofee omhoog te lig.

“Ons bedank die ITF vir hul ondersteuning en Swakopmund-tennisklub vir die bane. Die ITF het toerusting geskenk om strandtennis ’n hupstoot te gee. Ons het goeie tennis oor die vier dae gesien om 2020 op ’n hoë noot af te sluit. Baie dankie aan die toeskouers en ondersteuners. Sien julle volgende jaar vir meer fantastiese tennis,” het die organiseerders gesê.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer