Witvlei Meat dreig Agribank
Witvlei Meat dreig Agribank

Witvlei Meat dreig Agribank

Die maatskappy sê hy is nou die regmatige eienaar van die bank se abattoir omdat die bank sekere ooreenkomste nie nagekom het nie.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Witvlei Meat sê hy beoog om alle ooreenkomste wat hy met Agribank gesluit het, te beëindig as die bank nie daaraan voldoen nie.

Die maatskappy het die bank drie dae gegee om sy verpligtinge in hierdie verband na te kom.

Alternatiewelik vra Witvlei Meat ‘n skriftelike verlenging van die skikkingsonderhandelinge met bepaalde datums en besluite wat geneem moet word.

Indien die bank dít nie doen nie, dreig Witvlei Meat om alle ooreenkomste te kanselleer, asook met ‘n hofgeding om sy verliese te vereffen en skadevergoeding te eis ná ‘n langdurige onderonsie tussen die twee partye oor die slagpale op Witvlei.

Witvlei Meat het die abattoir van Agribank sedert Augustus 2006 gehuur.

Die maatskappy het gister in ‘n verklaring gesê Agribank moes die abattoir aan Witvlei Meat reeds in 2010 oorgedra het.

Dit sê die bank het dit egter “met opset” nie gedoen nie.

As gevolg hiervan, sê die maatskappy, is Witvlei Meat daarom nou die regmatige eienaar van die slagpale “deur middel van die leer van fiktiewe vervulling in 2010” soos bevestig deur ‘n appèlhof-uitspraak in 2013.

Die maatskappy sê aangesien Agribank tot dusver versuim het om eienaarskap van die abattoir aan hom oor te dra, het die partye gesamentlik besluit om alle regsaangeleenthede tussen hulle sedert 24 Augustus verlede jaar te stop.

Beide partye het blykbaar ook hul onderskeie regsverteenwoordigers opdrag gegee om nie verdere kostes aan te gaan in afwagting op die skikkingsonderhandelinge nie.

Witvlei Meat sê Agribank is bewus van die feit dat die bank se optrede veroorsaak het dat hy verliese van sowat N$60 miljoen gely het.

Die verlies van N$60 miljoen is blykbaar vasgestel deur onafhanklike aktuarisse wat gesamentlik deur die partye aangestel is sedert die skikkingsonderhandelinge begin het. Agribank het glo ook erken dat dié bedrag reg is.

In Mei het die partye glo ooreengekom dat Agribank se raad ‘n besluit om ‘n lening van N$35 miljoen nie aan Witvlei Meat te gee nie, sal hersien aangesien die maatskappy aan alle vereistes vir die lening voldoen het.

‘n Alternatiewe voorstel was dat die abattoir aan Witvlei Meat oorgedra sou word teen die bank se onkoste, ingevolge bevele van die hooggeregshof sowel as die hoërhof.

“Witvlei Meat het werklik probeer om ‘n praktiese oplossing in belang van alle betrokkenes te vind sonder om sy regte te benadeel. In gebreke hiervan sou Agribank teenvoorstelling moes oorweeg in ‘n poging om ‘n volle en finale skikking te bereik,” het Witvlei Meat gesê.

Die maatskappy sê Agribank het genoeg tyd gehad om aan die ooreenkoms gehoor te gee, maar dat hy dit nie gedoen het nie.

Kommentaar

Republikein 2026-01-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer