Withuis het gefouteer met Oekrau00efne
Withuis het gefouteer met Oekrau00efne

Withuis het gefouteer met Oekraïne

Die senaat sal na verwagting vir Trump vryspreek en in sy amp behou, met geen van die 53 Republikeine wat steun uitgespreek het om hom te verwyder nie.
Met die verhoor van pres. Donald Trump wat amptelik in die Amerikaanse senaat begin, het ’n onpartydige waghond van die kongres Donderdag nog ’n hou teen die Republikeinse president toegedien met die bevinding dat die Withuis die wet oortree het deur leniging aan Oekraïne te weerhou.

Adam Schiff, ’n Demokraat in die huis van verteenwoordigers wat die span aanklaers lei, het op die vloer van die senaat verskyn om die twee klagte te lees wat die huis op 18 Desember goedgekeur het en Trump beskuldig van magsmisbruik en obstruksie van die kongres in verband met sy optrede met Oekraïne.

Die hoofregter, John Roberts, sal deur die dag ingehuldig word om oor die verrigtinge waar te neem en die 100 senatore as jurielede in te sweer. Openingstoesprake vir die verhoor, die derde in Amerikaanse geskiedenis, sal Dinsdag gelewer word.

Die magsmisbruik waarna die huis verwys sluit in dat Trump US$391 miljoen in leniging vir veiligheid aan Oekraïne weerhou het, terwyl Demokrate aanvoer dit was ’n poging om Kiëf te dwing om ’n politieke mededinger, Joe Biden, teen wie hy moontlik in November se verkiesing te staan kan kom, te ondersoek.

“Getroue uitvoering van die wet laat nie die president toe om prioriteite wat die kongres goedgekeur het met sy eie beleid te vervang nie,” het die Government Accountability Office (GAO) bevind, met verwysing na die kongres wat reeds gestem het om die geld toe te wys.

Die GAO word beskou as ’n top-ouditagentskap vir die federale regering wat wetmakers en staatsentiteite raad gee oor hoe belastinggeld bestee word.

Hoewel dié agentskap se bevinding ’n terugslag vir Trump is, is dit onduidelik of dit met sy verhoor in die senaat onder die beheer van Republikeine oorweeg sal word, met dié dat dit onbekend is of getuies of nuwe bewysstukke sal verskyn.

Mitch McConnell, leier van die Republikeinse meerderheid, het aan senators gesê hulle moet net die bewyse wat die huis ingesamel het in ag neem.

Die senaat sal na verwagting vir Trump vryspreek en in sy amp behou, met geen van die 53 Republikeine wat steun uitgespreek het om hom te verwyder nie en ’n tweederde-meerderheid wat vereis word.

Trump ontken enige wangedrag en het die proses om hom in ’n staat van beskuldiging te plaas as ’n bedrogspul afgemaak.

Die GAO se verslag noem dat die Amerikaanse grondwet nie ’n president eensydige gesag gee om geld te weerhou soos Trump gedoen het nie. Om geld aan die hand van beleid te weerhou, waarvan Trump se regering beskuldig word, word nie toegelaat nie.

Die senaat sal later Donderdag die Withuis van die naderende verhoor in kennis stel. – Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer