Wins of verlies: BoN verduidelik

Die sterker rand het die BoN verlede jaar ‘n wisselkoersverlies laat ly, maar die sentrale bank het steeds ‘n groter netto wins as in 2015 gemaak.
Jo-Mare Duddy Booysen
Jo-Maré Duddy – “Geen regdenkende ouditeur sal enige instelling wat ‘n verlies ly, toelaat om ‘n dividend te betaal nie.”

Só het die president van die Bank of Namibia (BoN), Ipumbu Shiimi, gister op mediaberigte gereageer wat sê die sentrale bank was verlede jaar met meer as ‘n halfmiljard Namibiese dollar in die rooi.

Luidens die BoN se jongste jaarverslag was die bank se “totale omvattende verlies” op 31 Desember 2016 bykans N$526,6 miljoen. Dit is egter nadat die BoN se herwaardeerde buitelandse valutareserwes vanweë die sterker rand en dus Namibiese dollar van sowat N$6,57 miljard aan die begin van 2016 tot nagenoeg N$5,85 miljard teen jaareinde verminder het.

Teen die einde van 2016 het die rand teen 13,62 teenoor die Amerikaanse dollar verhandel vergeleke met 15,56 teen die einde van 2015. Teenoor die euro was dit 14,34 (2015: 17,00), terwyl dit 16,73 (2015: 23,07) teenoor die pond verhandel het.

Gevolglik het die BoN verlede jaar ‘n wisselkoersverlies van bykans N$722,5 miljoen gely. Dié verlies het die BoN se wins van sowat N$195,9 miljoen vir 2016 in ‘n totale omvattende verlies omgeswaai.

Met die rand wat van einde 2014 tot einde 2015 beduidend verswak het, het die BoN ‘n wisselkoerswins van bykans N$3,3 miljard vir sy 2015-boekjaar getoon. Dit het die sentrale bank se wins van amper N$161,7 miljoen vir 2015 tot ‘n totale omvattende wins van sowat N$3,4 miljard opgestoot.

Wetgewing

Wetgewing bepaal dat sulke wisselkoersbewegings nie as deel van die BoN se inkomste beskou mag word nie, sê Shiimi.

Ingevolge die wet moet enige wins of verlies wat spruit uit bates en laste wat in buitelandse geldeenhede aangedui word, na die BoN se herwaardeerde buitelandse valutareserwes in sy balanstaat oorgedra word.

Dit het die BoN verlede jaar met ‘n netto wins van sowat N$167,8 miljoen gelaat, ‘n styging van bykans 5% teenoor 2015.

Uit dié netto wins is sowat N$68,1 miljoen as dividende die regering oorbetaal vergeleke met bykans N$76,5 miljoen in 2015. Uit die res is sowat N$79,7 miljoen na die BoN se algemene reserwefonds. Dié fonds, ‘n wetlike vereiste, was teen die einde van verlede jaar bykans N$1,28 miljard sterk. Teen die einde van 2015 was daar bykans N$1,2 miljard in die fonds. Die oorblywende N$20 miljoen van 2016 se netto wins is ‘n boufondsreserwe gestort.

Shiimi sê, anders as handelsbanke, word nie van die sentrale bank verwag om ‘n wins te toon nie. Die BoN doen nietemin, sê hy.

Die BoN het verlede jaar met totale bates van meer as N$34,2 miljard afgesluit, sowat N$1,5 miljard of 4,3% meer as 2015.

Kommentaar

Republikein 2025-06-02

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer