Windows 7 se dae getel – só raak dit jou

30% van rekenaars wêreldwyd geraak

16 January 2020 | Tegnologie
Petrus Malherbe – Microsoft se Windows 7-bedryfselsel het die einde van sy leeftyd bereik.

Dié bedryfstelsel word van Dinsdag af nie meer deur Microsoft ondersteun nie, wat dit voortaan kwesbaarder maak vir virusse en ander indringerware.

Daarom moedig Microsoft gebruikers van Windows 7 aan om so gou as moontlik na die jongste weergawe van sy bedryfstelsel oor te skakel.

Windows 7 is al meer as tien jaar oud en volgens Microsoft het hy besluit om sy ondersteuning daarvan te staak sodat hy op “nuwe tegnologieë” kan fokus.

Windows 7 is egter nog baie gewild en is steeds die bedryfstelsel op meer as 30% van rekenaars wêreldwyd.

Volgens StatCounter is Windows 7 se markaandeel in sommige lande, waaronder Turkmenistan, steeds meer as 60%.

In Suid-Afrika is sy markaandeel net onder 30%.

Miljoene rekenaars is dus van Dinsdag af kwesbaarder vir indringerware en ander rekenaarvirusse.

Wat het Microsoft besluit?

Microsoft het reeds in 2015 aangekondig hy beplan om Windows 7 van 14 Januarie 2020 af nie meer te ondersteun nie.

Dit beteken Microsoft gaan nie meer bywerkings vir Windows 7 uitreik om gebruikers daarvan teen nuwe tipes rekenaarvirusse of ander kuberaanvalle te beskerm nie.

Moontlike foute met Windows 7 wat dus van Dinsdag af ontdek word, sal nooit reggestel word nie.

Hoe raak dit my?

As jy nog Windows 7 gebruik, kom dit daarop neer dat jy nou die risiko loop om deur nuwe tipes rekenaarvirusse of kuberaanvalle geraak te word.

Bykans ’n derde van Suid-Afrikaners gebruik nog Windows 7.

Met die WannaCry-kuberaanval van 2017 was rekenaars met Windows XP veral kwesbaar, juis omdat Microsoft dié bedryfstelsel reeds in 2014 gegroet het.

Windows 7 gaan nou eweneens kwesbaarder wees vir aanvalle omdat Microsoft geen sekerheidsbywerkings daarvoor gaan uitreik nie.

Dit beteken aanvallers kan dalk op groot skaal toegang kry tot Windows 7-gebruikers se rekenaars en persoonlike inligting soos hul bankbesonderhede en dies meer, sonder hul medewete.

Wat kan ek doen om myself te beveilig?

As jy nog Windows 7 gebruik, sal die eenvoudigste oplossing wees om so gou as moontlik ’n nuwe rekenaar aan te skaf met die jongste weergawe van Windows.

Windows 10 is reeds in Julie 2015 uitgereik en Microsoft het dit van die begin af gratis beskikbaar gestel aan bestaande gebruikers van Windows 7 en 8.

Microsoft het reeds ’n boodskap aan Windows 7-gebruikers gestuur wat hulle aanraai om dadelik na Windows 10 oor te skakel.

Die tegnologiereus beveel egter nie aan dat Windows 10 op ouer rekenaars geïnstalleer word nie.

“Vandag se rekenaars is soveel vinniger en kragtiger en Windows 10 is reeds daarop geïnstalleer,” sê Microsoft op sy webwerf.

Maar jy het dalk nie begroot om nou ’n nuwe rekenaar aan te skaf nie. Gelukkig is dit teoreties steeds moontlik om Windows 10 af te laai en te installeer, mits jy ’n gelisensieerde weergawe van Windows 7 het.

Dit gaan ’n bietjie kennis van bedryfstelsels verg, maar al die instruksies word op Microsoft se webwerf uitgestippel.

Jy sal dalk ook ’n bykomende lisensie vir Windows 10 moet bekom om al die funksionaliteite daarvan te benut.

Microsoft het Windows 10 net tot Julie 2016 heeltemal gratis aangebied.

Maak ook eers seker jou ou Windows 7-rekenaar beskik oor die kapasiteit om Windows 10 te ondersteun.

Windows 10 benodig minstens 1 gigagreep se geheue en 16 gigagrepe se stoorplek.

Gaan my Windows 7-rekenaar net eendag ophou werk?

Nee, jou rekenaar met Windows 7 sal aanhou werk totdat dit eendag om ’n ander rede die gees gee.

Hoe weet ek watter weergawe van Windows ek het?

Gaan na die Control Panel op jou rekenaar, dan na System and Security en laastens na System. Jou weergawe van Windows sal daar aangedui word.

Dit sal ook daar wys of jy ’n gelisensieerde weergawe van Windows of ’n vervalste weergawe het.

Vals weergawes van Windows 7 sal nie na Windows 10 opgegradeer kan word nie. – Netwerk24

Soortgelyk

 

Khomas se Vries bevorder

1 uur gelede | Onderwys

Mnr. Gerard Vries, voorheen direkteur van onderwys in die Khomasstreek, is met ingang 1 September as die nuwe adjunk uitvoerende direkteur vir lewenslange onderrig in...

Geweldenaars op vrye voet

13 ure gelede | Misdaad

Denver Kisting – Teen gistermiddag was die man steeds op vrye voet wat glo Saterdagoggend by 'n huis in Havana ingebreek en 'n vrou ten...

Swaar straf wag op Covid-oortreders

13 ure gelede | Regering

Denver Kisting – Dr. Kalumbi Shangula, die mi­nister van gesondheid en maatskaplike dienste, sê geskoei op Namibiërs se gedrag vandat die noodtoestand ten einde geloop...

Weer, Maandag 21 September 2020

13 ure gelede | Weer

BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die noordoostelike streke met 'n paar buie in die Zambezi. Elders sonnig en baie warm tot bloedig warm.KUS:...

Toeriste uit Europa land

13 ure gelede | Vervoer

Augetto GraigEurowings se vlug LH5434 het gisteroggend net voor sonop vanuit Frankfurt by die Internasionale Lughawe Hosea Kutako geland. Die Airbus A330-300 met 280 sitplekke...

Itula: 'Outokratiese' aantygings pla nie

13 ure gelede | Politiek

Jemima Beukes – Die leier van die Independent Patriots for Change (IPC), dr. Panduleni Itula, sê kritici en beswaarde lede wat hom as 'n “huigelaar”...

NSFAF subsidieer skootrekenaars, datatoestelle

13 ure gelede | Onderwys

Augetto Graig – Namibiese studente sal binnekort gesubsidieerde skootrekenaars en goedkoop data kan koop om aanlyn afstandsonderrig te vergemaklik. Die Finansiële Hulpfonds vir Namibiese Studente...

Gertze skotvry ná skietvoorval

13 ure gelede | Howe

Ogone Tlhage – Die klag van poging tot moord teen die uitvoerende direkteur van die Namibiese Kwalifikasieowerheid (NQA), mnr. Franz Gertze, is Donderdag in die...

WEN AFSLAG OP 'N VAKANSIE

13 ure gelede | Gebeure

In aanloop tot die ­Namibië ­Toerisme Ekspo gee ­Republikein elke dag tot 6 November een afslag-reisbewys ter waarde van N$1 000 weg.SMS die sleutelwoord “NTE2020”...