Windhoekers laat spat met waterbesparing
Danksy goeie reënneerslae kan die akwifer nou herstel nadat dit straf benut is, terwyl Windhoek se watervooruitsigte tans goed vertoon.
Elvira Hattingh
Windhoekers het nie net daarin geslaag om 15% water tydens die afgelope jaar te bespaar nie, maar het op die koop toe ’n bykomende 1,1% bespaar.
“Die stad het 16,1% water bespaar, soos gemeet op 15 Junie,” het mnr. Harold Akwenye, die munisipaliteit se bestuurder van korporatiewe kommunikasie, bemarking en openbare deelname gister aan Republikein gesê.
Boonop is daar aanduidinge dat die Windhoek munisipaliteit (CoW) voorts kategorie A+ van sy waterbestuursplan in werking kan stel, terwyl die Windhoek-akwifer herstel toon nadat dit die afgelope seisoen straf benut is.
KATEGORIE
Akwenye sê alle aanduidings dui daarop dat die stad voortaan na kategorie A+van die waterbestuurplan kan aanbeweeg.
Dit is die bes moontlike scenario en beteken daar kan vanaf Mei oor twee reënseisoene in die stad se aanvraag na water voorsien word, naamlik met beskikbare damwater asook herwinde water.
Dit volg nadat die munisipaliteit sy waterbestuursplan op 1 Mei 2019 vanaf kategorie C (waterskaarste) na kategorie D moes verander, wat op ’n ernstige watertekort gedui het. Tydens ’n volslae waterkrisis kan die munisipaliteit selfs kategorie E in werking te stel, wat op ingrypende waterbeperkings neerkom.
Akwenye sê egter besluite oor die kategorie van die waterbestuurplan, asook teikens vir die besparing van water word ná die jaarlikse slypskool vir die sentrale gebied (CAN) geneem, wat gewoonlik in Mei, ná die reënseisoen, plaasvind.
Dié slypskool word egter eers vandag by die Safari Hotel gehou. “Die Covid-19-inperking het veroorsaak dat die slypskool vanjaar vertraag is,” sê Akwenye.
“Terselfdertyd kan ons ook eers op nuwe watertariewe besluit nadat die nasionale waterverskaffer [NamWater] op hul tariewe besluit het. Dit het ook nog nie gebeur nie.”
AKWIFER
Akwenye sê die munisipaliteit het in Maart vanjaar opgehou om water uit die Windhoek-akwifer, oftewel vanuit die CoW se boorgate, te onttrek. Die akwifer se water lê nou 25 meter dieper as in 2011, sê hy.
“Tans voorsien NamWater in 70% van die stad se vraag na water, terwyl die aanvullende 30% vanaf waterherwinningsaanlegte kom.
“CoW het ook reeds met die kunsmatige hervulling van die Windhoek-akwifer begin nadat goeie reënneerslae ontvang is en ons damme tans voller is,” sê Akwenye.
Hy sê tans is dit reeds die sesde week van hervulling van die akwifer. “Na raming is daar nog 47% water van die akwifer se ontginbare potensiaal oor.”
Op die vraag of die reën die akwifer se watervlakke gelig het, sê Akwenye slegs ’n stadige herstel is waargeneem.
“Teen die einde van Mei het watervlakke in die akwifer met 2 meter gestyg. Hoewel dit positief is, bestaan die moontlikheid dat hierdie niks met die onlangse reën nie te doen het, maar eerder gebeur het omdat ons opgehou het om water vanuit die boorgate te onttrek.
“Tog is daar enkele boorgate waar die water se rusvlakke beduidend herstel het.
“Dit is waarskynlik te danke aan ’n kombinasie van faktore: Die akwifer se natuurlike vermoë om ná strawwe onttrekking te herstel, tesame met aanvulling deur die onlangse reën,” het Akwenye verduidelik.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie