Windhoek Woordfees skop af
Windhoek Woordfees skop af

Windhoek Woordfees skop af

Ronelle Rademeyer
Afrikaans dans die volgende paar dae met ‘n uitklokrok vrolik op Swakopmund en in Windhoek tydens die 6de jaarlikse Windhoek Woordfees.
Die fees het gisteraand (Dinsdag) afgeskop met die Jannie du Toit-vertoning, Doep is nie Dood nie, op Omaruru.
Vanaand om 20:15 bied hy en sy groep die produksie, “Bonjour Monsieur Brel”, in die Aula van die Namib Primêre Skool op Swakopmund aan, terwyl die produksie, Passiedigters, om 19:00 by die Swakopmund Hotel aangebied word. Dit behels praatgedigte met musikale begeleiding deur onder ander die Belgiese groep, Ten Adam.
In Windhoek kan die jongspan vanmiddag na ‘n gratis boekvoorlesing van lekker-lees kinderstories deur Henriëtte van Wyk en Susan Alexander (foto) gaan luister. “Eendag was daar. . .” begin om 15:30 en word by Maerua Rooftop aangebied.
Vanaand gesels die taalkundige en skrywer, Sophia Kapp, in Filosofiegesprek om 19:00 by Maerua Rooftop oor die lewenskragtigheid van Afrikaans danksy die taal se grensloosheid in die kuberruim. Afrikaansonderwyseres Elzeth Harmse is die gesprekleier.
Besoek www.windhoekwoordfees.com vir die volledige program. Kaartjies is hier aanlyn beskikbaar, asook by die deur voor elke vertoning.

Kommentaar

Republikein 2025-05-08

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer