Windhoek steier onder virus
Windhoek steier onder virus

Windhoek steier onder virus

Die Covid-19-gevalle in Windhoek het die afgelope twee weke tienvoudig toegeneem te midde van 'n tekort aan medici en toerusting.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht



Te min personeel, spesialiste, epidemioloë, intensiewesorgeenhede (ICU) asook toerusting in ICU's by verwysingshospitale is 'n reusestruikelblok in Namibië se stryd teen Covid-19.

In Windhoek alleen het die getal bevestigde Covid-19-gevalle volgens die minister van gesondheid en maat­skaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, die afgelope twee weke vanaf 13 op een dag, tienvoudig toegeneem tot die 152 wat gister gerapporteer is.

Volgens 'n gesamentlike verslag deur die ministerie en die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) staar die land 'n tekort aan van intensiewe­sorgeenhede en ook toerusting in dié eenhede by verwysingshospitale in die gesig.

Hoësorgeenhede by distrikshospitale is nie genoeg nie, terwyl daar ook 'n tekort aan ambulanse en isolasiegeriewe is. Die verslag sonder ook 'n tekort aan persoonlike beskermende toerusting (PPE) en die agterstand in toetsing by die Namibiese Instituut vir Patologie (NIP) as struikelblokke uit.



gesondheidswerkers

Volgens die verslag het 113 gesondheidswerkers teen Vrydag positief getoets, waarvan 62 in Khomas, 38 in Erongo asook een elk in onderskeidelik Hardap, Omusati en Oshikoto was. Oshana en Zambezi het onderskeidelik vier en 13 gesondheidwerkers wat positief getoets het. Volgens die verslag het ses reeds ten volle herstel. Byna 98% van die gevalle was die gevolg van plaaslike oordrag.

Teen Vrydag het Erongo steeds die meeste van Namibië se gevalle gehad en wel 73,8%, gevolg deur Khomas met 20,9%.

Uit die 7 489 kontakte van bevestigde gevalle wat geïdentifiseer is, het 393 positief getoets. Die meeste gevalle is in die ouderdomsgroep 20 tot 49 jaar (75,6%), gevolg deur die ouderdomsgroep 50 tot 59 jaar (11,4%). Kinders onder vyf jaar is 4,4% van alle gevalle en inwoners ouer as 60 jaar 3,3% van alle gevalle.



erongo

Die Erongostreek het Vrydag steeds die meeste mense in kwarantyn gehad (601), gevolg deur Khomas met 369 en ||Kharas met 99.

Ten tye van die verslag het 301 vragmotors in die bestek van 24 uur die land binnegekom, met 38,2% wat na Khomas onderweg was, gevolg deur 23,3% na ||Kharas en 21,3% na Erongo.

Dr. Shangula het gister 190 nuwe gevalle aangekondig – wat buiten die 152 in Windhoek ook 17 op Walvisbaai, agt op Swakopmund, een op Omaruru, drie op Rehoboth, een op Mariental, een op Okahandja, twee op Otjiwarongo, een op Grootfontein, twee op Lüderitz en een elk op onderskeidelik Eenhana en Rundu was.

Uit die 190 nuwe gevalle is 98 mans en 92 vroue. Die jongste is een jaar oud en die oudste 73 jaar. Die mees onlangse sterfte is 'n 69-jarige vrou van Windhoek wat onderliggende mediese toestande gehad het. Dit bring die totale getal sterftes op 36 en die totale getal bevestigde gevalle op 4 344 te staan.

Tot nou is 41 867 weefselmonsters getoets en 1 556 mense is tans in kwarantyn in geriewe oraloor die land. Shangula het ook gister gesê hy self het negatief vir Covid-19 getoets.

Dit volg nadat 'n werknemer van die ministerie positief getoets het nadat sy 'n troue bygewoon het. Die minis­terie se hoofkantoor is gevolglik ontsmet en alle personeel is vir Covid-19 getoets.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2026-07-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer