Windhoek se leu00eb stadskoffers
Windhoek se leu00eb stadskoffers

Windhoek se leë stadskoffers

Dani Booysen
Namibiërs het dalk al 'n skokbestandheid ontwikkel teen nuus oor hoe broekskeur dit by talle plaaslike owerhede gaan.

“Wat is nuut?” is dalk die vraag oor die feit dat Windhoek se ou skuld (120 dae, oftewel vier maande en langer agterstallig) vir munisipale dienste byna 'n halwe miljard dollar beloop.

Die bedrag van sowat N$450 miljoen is saamgestel uit N$321 miljoen se skuld deur huishoudings en N$113 miljoen deur besighede. Die geld is brood­nodig vir die hoofstad om sy pligte na te kom.

In belang van deursigtigheid is dit goed dat die munisipaliteit oop kaarte oor die saak speel. Die vraag hoe so 'n situasie ontstaan, word egter gepypkan. Dit is ook interessant dat die regering nie vermeld word nie, wat 'n reputasie vir laat betalings het.

Om bloot te sê afbetaalooreenkomste word nie eerbiedig nie, verskoon nie oogluikende swak beheer en dissipline nie. Skuldbestuur werk duidelik nie in sy huidige vorm nie – vandaar die penarie, waarin ook baie ander dorpe weens skuld vir water en elektrisiteit verkeer.

'n Mens wonder hoeveel kommissie die aangewese skuld­invorderaar sal verdien.

As sekere mense vir maande en selfs jare nie betaal nie en ander se dienste word summier afgesluit sodra hulle nie 50% van die verskuldigde bedrag vir net twee maande opdok nie, is daar vorms van diskriminasie in werking. So 'n bestel leen hom uiteraard tot moontlike ongelyke behandeling en ongerymdhede.

Daar is geen volhoubaarheid nie in enige stelsel waarin dié wat kan betaal, anders as wanbetalers behandel word.



So sê ander

5 Junie 2019



Beeld, Die Burger en Volksblad sê



Pleidooie van oor die land heen aan pres. Cyril Ramaphosa vir ingryping in gewelddadige misdaad in die land is deeglik gegrond.

Tewens, dit kan gestel word dat Suid-Afrika in die greep van 'n de facto-nood­toestand is wat gepaste optrede verg.

Hoe anders, gegewe dat talle vragmotors die afgelope dae in Gauteng, KwaZulu-Natal, die Wes- en Oos-Kaap en Mpumalanga aangeval en uitgebrand is; 'n jong paar by 'n Benoni-pad vermoor is (nadat hul voertuig sonder petrol gaan staan het); 'n egpaar in Dealesville in die nag in hul huis oorval en doodgeslaan is; en 'n Wes-Kaapse wynboer die jongste slagoffer van plaasaanvalle geword het.

Dít is enkele gevalle. Van Maart 2018 is 213 van hul lede in aanvalle op vragmotors dood, sê die vereniging vir padvragvervoer (RFA).

Telkens is die slagoffers onskuldiges wat 'n bydrae tot 'n beter Suid-Afrika wou lewer.

Wat oorbodig is om die geweldskultuur te swaai is los praatjies, vingerwysery en politiekery.

Wat nodig is, is politieke wil, 'n staat wat sy plig nakom, in samewerking met relevante instansies, en hulpbronne wat reg aangewend word – vir oplossings vir armoede en werkloosheid én ook vir misdaadintelligensie en -bekamping.

Gewis geen geringe taak nie, maar 'n land waarvan die burgers uitgemoor word, kan nie op 'n “nuwe daeraad” aanspraak maak nie.• NETWERK24

Kommentaar

Republikein 2025-04-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer