Windhoek se geldsake nie su00f3 duister
Windhoek se geldsake nie su00f3 duister

Windhoek se geldsake nie só duister

Die munisipaliteit sê sy boekhoustelsel is verbeter en ’n bateregister is nou in plek.
Augetto Graig
Augetto Graig



Die hoofstad se geldsake is nie so benard soos aangedui in ’n onlangse ouditeursverslag wat verlede week in die parlement ter tafel gelê is nie.

So sê die waarnemende uitvoerende hoof van die Windhoek-munisipaliteit, me. Jennifer Comalie.

Die ouditeur-generaal, mnr. Junias Kandjeke, sê in die verslag daar bestaan wesentlike onsekerheid oor die munisipaliteit se solvensie in die toekoms.

Hy wys in die ouditeursverslag vir die finansiële jare geëindig op 30 Junie 2019 en 30 Junie 2020 daarop dat die huidige laste van meer as N$2,3 miljard (2019: sowat N$2,4 miljard), die bates van sowat N$1 miljard (2019: sowat N$1 miljard) met N$1,3 miljard oorskry.

Comalie erken die verhouding tussen die stad se skuld en sy vermoë om dit terug te betaal, is N$0,54 vir elke N$1 wat die hoofstad skuld.

Die munisipaliteit sê as verlof ter waarde van N$354 miljoen nie in aanmerking geneem word nie, omdat dit hulle jaarliks N$13 miljoen kos, asook N$712 miljoen wat aan die regering verskuldig is, is die verhouding N$0,95 vir elke N$1.

“Ons besef die risiko en ons bestuur dit,” het sy gesê.

“Ons balansstaat is sterk en as die twee items verwyder word, is die verhouding naby aan een tot een,” sê sy.

Die munisipaliteit wil sy skuld aan die regering vereffen met grond en sy sê die partye het reeds in gesprek oor die opsie getree.

“Ons het hulle genader en ons voorstel is in lyn met die regering se inisiatiewe. Albei partye sal daarby baat en daar is beslis ’n bereidwilligheid om die gesprek te finaliseer,” sê sy.

Die grond van N$712 miljoen is ’n klein deel van die hoofstad se totale niebedryfsbates ter waarde van meer as N$18,9 miljard. As die totale laste ter waarde van N$3,2 miljard afgetrek word van die totale bates van N$20,235 miljard, is daar ’n oorskot van meer as N$16 miljard, sê sy. Dit word in die stad se nuwe bateregister aangedui.

Verder sê die munisipaliteit uit die tien kwessies wat die ouditeursverslag uitgelig het, is vier reeds afgehandel, terwyl net twee betekenisvol is.

Solvensie is een van dié kwessies, terwyl die ander die gebrek aan ’n stelseloudit is wat vir jare nie gedoen is nie.

Die faktuurstelsel is veral belangrik en die stadsraad het reeds ingestem om die verouderde stelsel te vervang, sê sy. Die nuwe stelsel sal na verwagting in September 2022 operasioneel wees.

Windhoek benodig ook ’n volledige oudit vir sy inligting en kommunikasietegnologie (ICT)-stelsel en KPMG het reeds ’n risiko gebaseerde oudit voltooi.

Die uitvoerende beampte vir finansiële rapportering en begroting, mnr. Samuel Mutonga, het gesê die munisipaliteit se oortrokke bankrekening van N$162 miljoen, was voorheen N$353 miljoen, voor die herindeling van N$191 miljoen.

Hy sê onafgehandelde eissake van meer as N$124 miljoen wat die ouditeur-generaal uitgelig het, is verklaar, insluitend die twee grootste eise van Pioneerspark Dam Investments (N$101 miljoen) en mnr. David Bruni.

Ander kwessies wat nog aandag moet geniet, sluit in bates van N$32 miljoen (2019: N$34 miljoen) wat oorskat is, die inkorrekte klassifisering van voorheen ontwikkelde grond, statutêre fondse wat onderbefonds is en die nienakoming van internasionale boekhoustandaarde, sê Mutonga.

Comalie sê die stad het al ver gevorder met die toepassing van internasionale standaarde vir die boekhouding in openbare instellings.

Volgens haar kan Windhoekers binne die volgende drie jaar verwag dat die hoofstad ’n gunstige ouditverslag sal ontvang. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer