Windhoek se dors duur voort
Ten spyte van goeie reëns is Sentraal-Namibië steeds ernstig in die knyp.
Elvira Hattingh - Al sou alle beskikbare waterbronne aangewend word, sal NamWater se huidige beskikbare watervoorraad vir Sentraal-Namibië op die beste tot Maart 2019 hou.
NamWater se hoof van waterverskaffing vir Sentraal-Namibië, mnr. Cliff Olivier, het gister tydens die vieringe van Wêreldwaterdag in Windhoek gesê al sou sentrale damme vol wees, het NamWater nie genoeg water vir sentrale gebiede nie.
“Indien Sentraal-Namibië slegs van die Von Bachdam se water afhanklik was, sou die huidige watervoorraad ons 12 maande hou,” het hy gesê.
Volgens Olivier sal dit altesaam nege maande neem om die 61,5% water in die Omatakodam na die Von Bachdam oor te pomp, wat nodig is voor daar van dié water gebruik gemaak kan word. Die Swakoppoortdam se huidige watervoorraad sal ook net sowat 12 maande hou.
Olivier het gesê daar moet wegbeweeg word van waterintensiewe ekonomiese ontwikkeling. Ons moet hierdie tipe ontwikkelings verskuif na gebiede wat genoegsame water het.
Mnr. Dieter Tolke, van die munisipaliteit se afdeling vir waterbestuur, sê ook die groeiende vraag na water kan op die lang termyn nie die groei van sentrale gebiede steun nie.
“Verdere ontwikkeling van die sentrale gebied is waarskynlik nie volhoubaar nie.”
Verder sê hy die damme wat Windhoek van water voorsien, staan tans op 'n gemiddeld van 49%. Dit plaas Windhoek steeds in die “ernstige droogte”-kategorie.
“Ons het waarskynlik onlangs die ernstigste droogte in die geskiedenis ervaar en was dit nie vir die water vanaf Windhoek se herwinningsaanlegte en die boorgate in die akwifer nie, sou ons dit nie gemaak het nie,” het hy gesê.
Olivier sê danksy 'n waterbesparingstrategie deur Windhoekers en besighede is gemiddeld 30% water in 2016 bespaar.
GOBABIS OOK IN DIE KNYP
Olivier het gesê die Tilda Viljoendam bevat tans net genoeg water vir die volgende 19 maande en sonder verdere invloei sal Gobabis teen Oktober 2018 leegloop.
“Die Dreihukdam by Karasburg was vir bykans 20 jaar leeg. Die water wat tans in die dam is, sal verligting bring en waarskynlik tot Julie 2019 hou,” het hy gesê.
Friedenaudam se water kan nog vir die volgende 40 maande hou, terwyl die baie leë Otjiverodam se water na verwagting net tot Oktober 2018 sal hou.
Die Hardapdam se huidige watervoorraad sal na verwagting nog 31 maande of tot Oktober 2019 hou, terwyl die Nautedam, wat 100% vol
is, nog water vir 55 maande sal kan bied.
Die Oanobdam is sowat 90% vol en sy watervoorraad sal nog 76 maande hou.
RISIKO-GEBIEDE VIR WATERNOOD
Karibib tap ook water van die sentrale waternetwerk en kry sy water van die Swakoppoortdam af. Kommer heers egter dat die dam se water al meer besoedel raak.
“Ons ervaar voortdurende probleme op Karibib weens die dam se swak watergehalte. Tans vul ons die dorp se water met boorgatwater aan.
“Wat Uis betref – die Omaruru-rivier was in vloed, wat verligting gebring het. Ons het nuwe boorgate in die rivier gesak, maar Uis bly egter 'n probleem,” het Olivier gesê.
“Die sentrale kus het eenvoudig net nie genoeg water nie en die myn van uraan plaas al groter druk op beskikbare bronne.”
Duurder, ontsoute seewater word hoofsaaklik vir myne aangewend.
Kalkfeld en Opuwo ervaar probleme met watergehalte.
“By Eenhana in die Noorde is die Ohangwena II-akwifer se water baie diep geleë en jy moet eers deur 'n soutwaterakwifer boor.
“Grunau, Buitepos, Witvlei en Ariamsvlei maak gebruik van boorgatwater, maar dit is te min en hulle ervaar 'n tekort daaraan. Beperkte infrastruktuur lei tot watertekorte op plekke soos Rundu, Outapi en Oshakati,” het Olivier gesê.
BEPERK VERDAMPING, LEKKASIES
Volgens Olivier sal NamWater voorts sy beskikbare watervoorraad vir Sentraal-Namibië probeer uitrek met behulp van die wateraanvullings-bestuurprogram, waarvolgens water vanuit sentrale damme gebruik word om die Windhoek-akwifer te hervul. Dit sal verdamping verminder.
Olivier het ook statistieke oor waterlekkasies van drie plaaslike dorpe verskaf en spesifiek verwys na watervloei wat snags na huise gaan. “Van die dorpe verloor tussen 30% en 36% van hul water snags as gevolg van lekkasies. Die water het 'n waarde van tussen N$1,8 miljoen en N$10,3 miljoen.”

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie