Wilro bly onkeerbaar in Omaheke-tydren

Motorsport

10 September 2018 | Sport
Tielman van Lill op Gobabis - Die 2018 Shell V-Power Cattle Country-tydren wat Vrydag en Saterdag in en om Gobabis aangebied was, is vir die vyfde keer deur Wilro Dippenaar en navigator Riaan van der Westhuizen (S3-klas) in hul 4x4 Shell V-Power Toyota Auris S2000 van PZN Panelbeaters Racing gewen.

Met dié span se wentyd van 1 uur 20 minute en 6 sekondes het hy ook die algehele eerste plek ingeneem met Jandré Dippenaar en Gielie Visser in ’n 4x4 Ford Ranger 5.3 liter algeheel tweede en eerste in die Off-road 1-klas met ’n tyd van 1:28:02.

Algeheel derde was Jan Everson en navigator Fanie Botes in 1:35:21, wat met hul netjiese 4x2 Seal Consulting Engineers VW Polo 2 liter ook die wenner van die S2-klas was.

Wilro Dippenaar het sonder die gebruiklike teenstand van Jaco Redelinghuys en navigator Dries Booysen (S3-klas) in die blitsige 4x4 Gobabis Toyota Yaris S2000 die titel verower. Redelinghuys het vroeg in die byeenkoms met die tweede supersneldeel hom met ’n bedrieglike draaitjie misgis, getol en ’n onwelkome ontmoeting met ’n geharde kameeldoringboom gehad wat die Yaris se onderstel onherstelbaar vir die res van die tydren gelaat het.

OR-KLAS

Die plaaslike jaers soos Bertie Smit en Dewald Venter met die 4x2 BSCS 4.3 V8 Mazda (OR 1) het in die eerste supersneldeel hul planne vir die res van die kompetisie uitgespel en het die broers Stefan en Lappies Labuschagne (OR 1) in hul 4x4 Gobabis Auto Truck & Tractor 3.9 liter V8 Land Rover behoorlik uitgedaag.

Ongelukkig het Smit se Mazda (derde in 2:5:47) se ratkas Saterdagoggend reeds in supersneldeel 5 besluit om hulle uit die stryd te laat tree. Dit het die Labuschagnes alleen teen Dippenaar (OR 1) gelaat.

Niekie Swart en Piet Retief (OR 2) in die 4x2 Engen Eastern One Stop 3.8 liter V6 Chevrolet Space Frame, asook Japie Koortzen en Wiehan Meyer (OR 2) in die 4x2 Koortzen-boerdery Ford F100 4.6 liter V8 Lexus het die res van die jaers in die resies uitgemaak.

Dippenaar het die OR 1-klas gemaklik met tien minute teen die bestendige Labuschagnes (1:38:06) opgeraap, terwyl Swart en Retief (1:40:30) die OR 2-klas teen die Keetmanshoopers Koortzen en Meyer (1:46:38) ingepalm het.

S2-KLAS

Everson en Botes het seepglad en foutloos in die oranje voorwielaangedrewe Polo gejaag wat soos ’n horlosie perfek geloop het om Willem en Johan Oosthuizen se 4x2 HJ Automotive 1.8 liter Ford Saphire (1:44:46) met nege minute vir die titel te klop.

S1-KLAS

Johan Bergh en Herman Robberts het aan hul eerste tydren met hul kar deelgeneem, maar die 4x2 J.A. Repairs 1.6 liter Toyota Conquest wou sedert Vrydagnamiddag nie saamspeel nie.

Bergh se diensspan het hul bes probeer om die Conquest se nukke te laat verdwyn, maar ongelukkig het dié dame ander planne gehad as waarvoor sy by die kompetisie ingeskryf was.

Soos wat dit nou reeds ’n tradisie in Gobabis geword het, het al wat leef en beef op die byeenkoms toegesak om dit in groot getalle te ondersteun, wat beslis ’n pluimpie vir die plaaslike inwoners is.

Mnr. Johan Grobbelaar, besturende direkteur van Vivo Energy Namibië wat met sy handelsmerk Shell V-Power vir die vyfde agtereenvolgende jaar die Cattle Country-tydren borg, het die prysuitdeling bygewoon.

“Die laaste vyf jaar van die tydren voel amper al soos ’n leeftyd en ’n instelling vir my. Ons is dankbaar teenoor die gemeenskap van Gobabis wat ons weer so goed soos die afgelope vyf jaar ondersteun het.

“Shell V-Power borg Wilro nie net om in Namibië deel te neem nie, maar ook in Suid-Afrika waar hy in die Arro-reeks asook die nasionale tydrenkampioenskap (NRC) kompeteer. Hy het drie van die Arro-byeenkomste gewen en die besondere prestasie behaal om die eerste Namibiër te word wat ’n NRC-kompetisie wen.

“Baie dankie aan die Redline Motorklub wat die byeenkoms aangebied het en ons die geleentheid bied om betrokke by motorsport te wees. Ons hoop om nog vir lank ’n gesonde verhouding met dié sport in die land te hê,” het Grobbelaar gesê.

Die organiseerders en Redline bedank Shell V-Power, Omateko Lodge, Hemco Paint, On Time Courier, PZN Panelbeaters, Gobabis Toyota, Gobabis Auto Truck & Tractor, Auas Motors en AJ’s Gourmet Ice vir hul vennootskap om die byeenkoms suksesvol te maak.

Al die tydrenbeamptes, deelnemers, die Gobabis munisipaliteit, brandweer- en verkeersdepartement, Nampol asook grondeienaars (S.W. van der Merwe en Jasper Engelbrecht) asook Republikein is deur mnr. Dippies Dippenaar, voorsitter van Redline vir hul besondere bydrae bedank.

Die algehele uitslae:

1. S3-klas: Wilro Dippenaar/Riaan van der Westhuizen 1:20:06.

2. OR 1: Jandré Dippenaar/Gielie Visser 1:28:02.

3. S2: Jan Everson/Fanie Botes 1:35:21.

4. OR 1: Labuschagne-broers, Stefan en Lappies 1:38:06.

5. OR 2: Niekie Swart/Piet Retief 1:40:30.

6. S2: Willem en Johan Oosthuizen 1:44:46.

7. OR 2. Japie Koortzen/Wiehan Meyer 1:46:38.

8. OR 1: Bertie Smit/Dewald Venter 2:05:47.

9. S1: Johan Bergh/Herman Robberts 2:24:17.

Soortgelyk

 

Mariental-monster kry 105 jaar

5 ure gelede | Howe

Hoërhof-regter Christie Liebenberg het die 34-jarige Gerald Henly Matlata vanoggend lewenslange tronkstraf opgelê vir moord, asook 80 jaar vir bykomende klagte. Dit sluit in twee...

Tienermeisie vermis

6 ure gelede | Polisie

Die 14-jarige Niita Fillemon word sedert verlede Woensdag vermis. Niita was met haar verdwyning in 'n swart broek en 'n geel t-hemp geklee. Sy is...

Nóg toeriste op grondpaaie beroof

7 ure gelede | Misdaad

Twee toeriste is Sondag onderweg na Sossusvlei deur ‘n groep mans van die pad afgedwing. Volgens hoofinspekteur Daniel Gurirab van die Namibiese polisie in...

Net ál nouer om Rooies

17 ure gelede | Plaaslik

Denver Kisting - ’n Maand nadat Republikein onthul het die aanklaer-generaal het gelas die oudlanddros mnr. Rooies Mostert moet vervolg word, het die Teenkorrupsiekommissie (ACC)...

Brand verwoes 9 kamers op Koedoeberg

17 ure gelede | Ongelukke

Henriette Lamprecht – Die Koedoeberg-gasteplaas se hoofgebou en wat onder meer die ontvangsarea, kombuis, kroeg en lapa gehuisves het, is Woensdagaand in ’n brand verwoes....

Weer vir 18 September 2018

17 ure gelede | Weer

WEERWAAK: Hittegolftoestande word in die noordelike streke verwag.BINNELAND: Gedeeltelik bewolk en baie warm in die Suide. Elders sal dit sonnig en baie warm wees,...

Ma en seun vandag weer voor hof

17 ure gelede | Howe

Denver Kisting'n Tienerseun is gistermiddag in die sorg van sy ma vrygelaat.Dít kom nadat dié 45-jarige ma gister op borgtog van N$1 500 vrygelaat is.Ma...

Man van halfmiljoen se items beroof

17 ure gelede | Misdaad

Tanja Bause Vyf gewapende mans het 'n man by sy huis in die hoofstad beroof en met items ter waarde van 'n halfmiljoen Namibiese dollar...

Walvis vrek ná reddingspoging

17 ure gelede | Omgewing

Tanja Bause - ’n Gestrande jong Antarktiese minkewalvis (Balaenoptera bonaerensis) is verlede Woensdag in Grosse Bucht by Lüderitz ontdek.Dié voorval is by mnr. JP Roux,...