Wild skok dood in fratsongeluk

Tanja Bause
Tanja Bause – ’n Gemsbok en ’n aardwolf is verlede week doodgeskok in wat net as ’n fratsongeluk en toeval beskryf kan word.

Volgens Danie Brand van die plaas Otjivasandu tussen Outjo en Etosha het die krag Donderdagnag omstreeks twaalfuur op die plaas en in die omgewing afgeslaan.

“Die krag het so gebewe gebewe en toe is dit af. Die volgende oggend het ek en my mense gery om te gaan kyk wat aangaan. Ons het vanaf die teerpad ingery en langs die kragpale afgery. Ná sowat 500 meter het ons die draad sien hang en op die dooie gemsbok en aardwolf afgekom. Ons het ook een gemsbok sien wegloop wat net geskok is.”

Die weerlig het die paal aan die bokant getref en dit het aan die brand geslaan. Die paal het stadig gebrand totdat die hoogspanningskabel afgeval en die diere getref het, waarna die krag afgeslaan het.

“Ek het nog nooit so iets beleef nie. ’n Dierevoetpad loop al langs die kragpale. Die toeval dat drie wilde diere agter mekaar geloop het toe die draad afval en hulle tref, is ongelooflik.”

Die aardwolf was sowat 60 meter agter die gemsbokke in dieselfde rigting op pad.

“Ek loop nooit weer onder ’n kraglyn nie.”
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-05-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer