Wiese se Tradehold kry nuwe JSE-borg
Wiese se Tradehold kry nuwe JSE-borg

Wiese se Tradehold kry nuwe JSE-borg

Bravura Capital, ’n Suid-Afrikaanse beleggingsbank, het bedank as JSE-borg van Tradehold. Tradehold is ’n genoteerde beleggingsbeheerfirma waarvan Christo Wiese, hoofaandeelhouer van Shoprite en Steinhoff, of firmas waarin hy belange het, minstens 57,88% besit. Tradehold se filiale besit eiendomme in Brittanje en Suider-Afrika. In ’n Sens-verklaring sê Tradehold bloot dat Bravura as aandelebeursborg bedank het, effektief vanaf 1 Januarie 2018.

Mettle Corporate Finance is vanaf 2 Januarie Tradehold se nuwe aandelebeursborg. Geen rede word vir die verandering in borg aangegee nie. Bravura se foon is nie by die hoofkantoor in Johannesburg beantwoord nie en ’n e-pos is ook nog nie beantwoord nie.

Wiese is een van die grootste aandeelhouers in Bravura, met ’n belang van 13,8%. Die grootste aandeelhouer is African Rainbow Capital (ARC), met ’n belang van 29,9%. Patrice Motsepe, dr. Johan van Zyl, voormalige uitvoerende hoof van Sanlam, en Johan van der Merwe, voormalige hoof van Sanlam Investments, is aan die hoof van ARC. Wiese besit ook Mettle deur VestIN, ’n maatskappy wat verlede jaar op die been gebring is om van sy finansiëledienstefirmas te huisves. Dis ’n noteringsvereiste dat ’n maatskappy ’n aandelebeursborg moet hê. Wiese bevind hom midde-in ’n finansiële skandaal oor Steinhoff se resultate wat hom volgens Forbes 90% van sy netto batewaarde gekos het. Hy word nou nie meer as ’n dollarmiljardêr beskou nie nadat hy in Desember in vier transaksies 19 miljoen Shoprite-aandele ter waarde van meer as R4,22 miljard verkoop het en Steinhoff se aandeelprys met byna 93% geval het. Steinhoff het Dinsdag op Sens aangekondig hy sal sy 2015-resultate en dalk selfs vorige jare se resultate óók moet hersien weens rekenkundige onreëlmatighede. Aanvanklik is gereken net die 2016-resultate sal hersien moet word. Geen vordering is al bekend oor die ouditeursfirma PwC se ondersoek na die onreëlmatighede nie. Steinhoff moet nog sy resultate vir die boekjaar tot einde September uitreik. -Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-09-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer