Wie besluit – die reg of die vrou?

Min navorsing is nog in Namibië gedoen oor die omvang van onveilige aborsies, opvattings daaroor of die beskikbaarheid, kwaliteit, bekostigbaarheid of nasorg daarvan.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Dis ’n debat wat meestal met groot emosie woed en min kies om apaties te bly. Moet aborsie in Namibië gewettig word of nie?

Tans word dit verbied onder die Aborsie- en Sterilisasiewet van Suid-Afrika (1975) wat Namibië ná sy onafhanklikwording van dié land in 1990 oorgeneem het.

Aborsies mag hier net onder streng mediese toesig binne die raamwerk van die wet uitgevoer word in gevalle van verkragting, bloedskande en wanneer die lewe van die ma in gevaar is.

Om ’n wettige aborsie te hê, vereis twee dokters wat die regsgronde vir die aborsie sertifiseer. Sou dit met die vrou of meisie se geestesgesondheid verband hou, word die insette van ’n sielkundige ook vereis.

In die geval van verkragting of bloedskande moet die vrou ’n polisieverslag hê om toestemming van ’n landdros vir die aborsie te verkry.

Die kriminalisering daarvan het egter min gedoen om die voorkoms van “agterstraat”-aborsies in Namibië en die risiko wat dit vir vroue inhou, hok te slaan. Volgens syfers van die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste (MoHSS) is 7 335 gevalle van aborsie oor ’n tydperk van nege maande (April tot Desember) in 2016 aangeteken.

Net 138 hiervan was mediese prosedures, terwyl die res onwettige of agterstraat aborsies was. Dit het meestal onder vroue jonger as 25 voorgekom. In dieselfde tydperk het MoHSS 103 swangerskapverwante sterftes aangeteken, met aborsie as een van die leidende bydraende faktore van dié sterftes.

Volgens die organisasie Working to Advance Health Equity in Africa (HEARD) is die bydrae van onveilige aborsies tot sterftes onder swanger vroue nie bekend nie, maar studies wys dit wissel van 12 tot 16%.

Tussen 2013 en 2015 het sowat 13 000 vroue gesondheidsorg vereis vir spontane aborsies met byna 30% wat in die Khomasstreek sorg gesoek het. Volgens HEARD onderskei dié getal nie tussen vroue wat ’n miskraam gehad het en dié wat ’n aborsie induseer het nie. Dit verwys ook nie na die vroue wat ’n aborsie gehad het en nie vir nasorg by staatsgeriewe aangeklop het nie.

Dit is daarom moeilik om te bepaal op watter skaal onveilige aborsie in Namibië voorkom en meer belangrik wat die gevolge is in terme van gesondheidsuitkomste van die ma, sowel as die koste vir die individu, gesondheidsorgdienste en die samelewing in die algemeen.

Die verslag maan weinig navorsing is nog in Namibië gedoen oor die omvang van onveilige aborsies, opvattings oor aborsie of die beskikbaarheid, kwaliteit, bekostigbaarheid van aborsies sowel as die nasorg daarvan.

Volgens HEARD word getuienisgebaseerde besluitneming en ingrypings deur hierdie beduidende gaping in kennis ondermyn.

In Morality & The Law – The Abortion Question skryf Dianne Hubbard van die Regshulpsentrum reeds in 1997 wette wat toegang tot aborsie verbied, weerhou vroue nie daarvan om aborsies te hê nie.

Volgens haar dryf dit bloot aborsie “ondergronds en in agterstrate” met tragiese gevolge vir vroue en hul welstand.

Sy verwys na Nederland wat die laagste aborsiekoers ter wêreld het en waar aborsie op versoek sedert 1979 tydens die eerste 12 weke van swangerskap toegelaat word. Die land het egter ’n omvattende program van seksonderrig en gesinsbeplanningsdienste wat die aborsiekoers uiters laag hou.

Hubbard gebruik die voorbeeld van Roemenië waar aborsie en voorbehoeding tot 1989 albei onwettig was. In dié tyd was die aborsiekoers in die land hoër as in enige Wes-Europese land waar aborsie wettig was, met meer as 10 000 vroue wat as gevolg van onwettige aborsies gesterf het en 200 000 kinders wat in kinderhuise beland het. Ná die herroeping van die beperkende wetgewing het sterftes van moeders “met 317%” gedaal.

Hubbard verwys na die Namibiese grondwet wat vryheid van godsdiens en vryheid van gewete en geloof vooropstel en maan dit beteken ’n samelewing as geheel kan nie gedwing word om die mening van enige spesifieke godsdiens te aanvaar nie.

“Die reg om besluite oor ’n kwessie van gewete te maak, is ’n fundamentele reg van wat dit beteken om ’n mens te wees,” sê Hubbard.

Waar breë verskille bestaan oor wat is reg en wat is verkeerd, moet die besluite volgens haar aan die gewete van die individu oorgelaat word.

“Sou alle vrae oor reg en verkeerd deur ’n wet besluit word, sal die konsep van moraliteit betekenisloos wees,” sê sy.

Hubbard maan om aborsie onwettig te maak, is nie ’n doeltreffende manier om vroue te ontmoedig om ’n aborsie te hê nie. Volgens haar is daar ander benaderings wat ver meer geneig is om ’n betekenisvolle impak te hê.

Sy verwys na die regering, kerke en ander nie-regeringsorganisasies in Namibië wat vroue deur ’n aantal positiewe maatreëls kan ontmoedig om aborsies te hê.

Dit sluit in die voorsiening van lewensonderrig in skole, die verhoogde toegang van gesinsbeplanningsmetodes, berading vir swanger vroue, die moontlikheid vir jong ma’s om met hul onderrig voort te gaan, die bevordering van opsies buiten aborsies soos aanneming en pleegsorg, om seker te maak pa’s doen hul deel om hul kinders te ondersteun, asook die voorsiening van finansiële hulp waar nodig.

Volgens Hubbard is sulke stappe eerder as morele veroordeling en wetlike strawwe ver meer geneig om aborsie en kindermoord te verminder.

“Die vraag wat ons onsself moet vra, is nie of aborsie reg of verkeerd is nie. Die vraag is of die gereg namens almal hieroor moet besluit.”

‘VROUE STUKKEND GELAAT’

’n Sterk stem teen die wettiging van aborsie is me. Ronel Peters wat as die dryfveer agter die Ruach Elohim Stigting haar ontferm oor weggooi-, mishandelde en verwaarloosde babas.

“Niks is so belangrik soos die heiligheid van lewe nie,” sê Peters.

Volgens haar was Namibië nog altyd ’n voorbeeld vir ander lande en die res van die wêreld wat die beskerming en agting van lewe betref.

“Hoe kan ons die hele land se ekonomie laat tuimel deur grendeltydperke in te stel om menselewens te beskerm, maar ons wil aborsie wettig?”

Sy verwys na Namibiese wetgewing wat voorsiening maak vir aanneming en pleegsorg, terwyl voorbehoeding vrylik beskikbaar is. In 2019 is wetgewing ook gewysig om ongewenste babas anoniem op ’n veilige plek te los sonder om vervolging in die gesig te staar. Ook kan babas wat as gevolg van verkragting verwek is, wettig deur ’n aborsie verwyder word.

Volgens Peters word gesondheidsorg en vroueregte as redes gebruik as “selfregverdiging om hierdie grusame daad te kamoefleer en sagter op die oor te maak”.

“Deur te redeneer dat aborsie wel plaasvind, of dit wettig is of nie, en juis daarom gewettig moet word, is ewe goed as om te sê kriminele aktiwiteite gebeur, of dit nou wettig is of nie en moet daarom dan liefs maar ook gewettig word.”

Sy verwys ook na die argument dat wettige aborsies babastorting en armoede gaan verminder en sonder Suid-Afrika uit waar aborsie wettig is en sowat 3 000 babas steeds jaarliks “weggegooi” word.

Volgens Peters laat ’n aborsie ’n vrou meer stukkend daarna en sluit nagevolge toekomstige miskrame, swangerskapkomplikasies sowel as emosionele trauma in.

“Ek wens die regering wil soveel aandag, energie en geld bestee aan die opvoeding en onderrig in skole oor hierdie kwessies, asook wydverspreide bewusmaking van ander opsies vir onbeplande swangerskappe as wat hulle doen vir aborsie.”

Peters beklemtoon die wettiging van aborsie is net ’n maklike manier om die morele verval onder jeugdiges en jong volwassenes onder die mat in te vee.

Volgens haar eis die “uiterste verwaarlosing in die onderrig en opvoeding van kinders en jeugdiges oor Christelike waardes en beginsels” nou sy tol.

ERVARE GINEKOLOOG SÊ

Een van die stemme vir die wettiging van aborsie is dr. Matti Kimberg, ’n ginekoloog wat ná 50 jaar vroeër vanjaar sy praktyk gesluit het.

Kimberg sê onveilige geïnduseerde aborsies is verantwoordelik vir ’n groot deel van sterftes onder ma’s in lande met beperkende aborsiewette.

Volgens Kimberg het ’n vrou die basiese reg oor haar eie liggaam en behoort hul toekoms hul eie keuse en verantwoordelikheid te wees.

Hy verwys na ’n toename in “agterstraat”-aborsies en sê Covid-19 beperk toegang vir ’n vrou om na ’n land te gaan waar aborsies wel wettig is. Finansiële druk plaas ook beperkings op die grootte van families, terwyl ’n tekort aan beskikbare voorbehoedmiddels en geriewe vir gesinsbeplanning in die land ook bydraende faktore tot onwettige aborsies in die land is.

Faktore wat dikwels volgens hom tot die besluit vir ’n aborsie lei, sluit in verkragting, verkragting in die huwelik, minderjarige seks en waar voorbehoedmiddels gefaal het.

“In hierdie omstandighede kom die onskendbaarheid van die baba ongelukkig nie in oorweging nie. Uiteindelik kom dit neer op die besluit van die vrou of sy in staat of gewillig of in ’n situasie is om nou ’n baba te hê,” sê Kimberg.

Die besluit kom dikwels telkens daarop neer dit is nie die regte tyd of plek om ’n baba te hê nie – hetsy fisiek en emosioneel en/of finansieel.

Ook speel faktore soos die gebrek aan steun van die pa, familie, vriende en die gemeenskap asook kultuur ’n rol.

Onmiddellike komplikasies van ’n aborsie sluit infeksie, bloeding, omvattende chirurgie en selfs die dood in. Langtermyngevolge sluit volgens Kimberg onvrugbaarheid, verlies aan selfrespek, huweliksonmin, families wat uitmekaar skeur en sosiale stigma in.

Volgens hom word aborsie oraloor in die wêreld in beide eerste en derdewêreldlande aanvaar, selfs in lande met ’n sterk godsdienstige oorheersing, wat Ierland en Suid-Amerikaanse lande insluit.

Die uitsondering, sê Kimberg, is lande waar vroue as ondergeskiktes en blote besittings gesien word.

“Namibië wat groot gewag maak van sy gelyke menseregte, behoort geen probleem te hê om hierdie besluit (ten gunste van aborsie) wat lank agterweë is, te aanvaar nie,” sê Kimberg.

Kimberg maan die rol van die man in die proses moet ondersteunend eerder as “dominant” wees en moet emosionele asook maatskaplike en finansiële steun voorsien.

Volgens hom moet die finale besluit ’n gesamentlike een wees, maar is dit uiteindelik die vrou wat beheer oor haar liggaam en haar fisieke en geestelike welsyn moet hê.

Kimberg beklemtoon sterk steundienste wat insluit voorbehoeding en voorligting oor wat om ná die prosedure te verwag.

[email protected]

(Bronne: www.heard.org.za; Morality & The Law – The Abortion Question: Dianne Hubbard – LAC)

Kommentaar

Republikein 2025-06-17

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer