WHS oorkom moedige HTS met gemak

Die vriendskaplike stryd is onder streng Covid-19-riglyne gespeel.
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Die kapteins en afrigters aan beide kante het Saterdag voor en ná die vriend­skaplike kragmeting tussen Witel HTS en Samsung WHS hul dankbaarheid uitgespreek vir die geleentheid om vir die eerste keer in 2020 'n slag skolerugby te kon speel.

Die WHS Koedoebulle het met 26-0 teen die HTS Warthogs gewen – 'n uitslag wat grootliks voorspelbaar was. Die Tekkies het vanjaar die groot sprong aangepak om vir die Momentum o.19 premierliga (gekanselleer weens Covid-19) in te skryf, nadat hul eerste span verlede jaar in die C-liga meegeding het.

Nogtans kon HTS se afrigters Robert Bezuidenhout en Handre Bezuidenhout tevrede voel dat hul spelers die skool nie in die steek gelaat het nie. Die Warthogs het net twee matriekseuns in hul eerste span gehad, maar die jeugdige groep het hulle nie van stryk laat bring nie en het WHS waardige teenstand gegee. Met die senuagtigheid van die onbekende afgeskud, sal HTS met vertroue vorentoe kan kyk.

Die Koedoebulle is vanjaar onder afrigterskap van mnre. Ainsley Daniels en Tiaan Steenkamp, nadat mnr. Henry Kemp na die kus verhuis het as 'n aanwins vir Walvisbaai PHS se Naartjies.

Die Koedoebulle se ondervinding van 'n hoër vlak rugby was nietemin onmiskenbaar op vertoon. Agter 'n dominerende agttal het losskakel Geraldo Beukes sake gedikteer om HTS selde in die bloues se helfte toe te laat. Vir WHS was dit bloot 'n geringe ontwrigting toe die heelagter Patrick Karsten, wat reeds in 2019 die eerstespantrui gedra het, op die oggend van die wedstryd ongesteld was en dus vervang moes word.

In sy plek het Tyrese de Wee die 9-trui vir 15 verruil. Die HTS-span het hard probeer om Myles Isaacks as die nuwe WHS-skrumskakel onder druk te plaas, maar WHS het nogtans genoeg balbesit gekry om met sy agterlyn se aanvalle skade aan te rig.

Die uiteinde was dat WHS rustyd met 12-0 voorgeloop en vier drieë teen nul gedruk het. Minstens nog twee kere was die ligbloues oor die doellyn vir aanskoulike “drieë” wat nie toegeken is nie toe beslis is dat die laaste aangee vorentoe was.

Die eerste slag is in die agtste minuut geslaan toe skrumskakel Isaacks van die derde opeenvolgende strafskop naby die doellyn met 'n tikskoppie aangeval het. Die vaskopstut Gian van Dyk het sonder 'n hand op hom gaan druk met die teenstander voor hom wat eerder die aangee probeer onderskep het. Met Geraldo Beukes se doelskop was WHS op dreef (7-0).

WHS het met feitlik elke kans die bal deur die hande geneem om spasie vir sy hardlopers in die wyer kanale te skep. Kort ná die eerste waterbreek is buitesenter Edward Turner met genoeg momentum in besit gestel om ondanks 'n desperate duikslag die doellyn te haal. Dié keer het Beukes mis geskop (12-0).

Beukes en Tyrese de Wee was die volgende WHS-spelers oor die doellyn vir gekanselleerde “drieë”, maar rustyd het nietemin met die telling onveranderd aangebreek.

Ná die hervatting het 'n Beukes-strafdoel regs verby geseil, terwyl skeidsregter Romario de Koker twee WHS-voorspelers met geel kaarte afgestuur het. Die slot Johan Schaaf is vir 'n ongeoorloofde duikslag gestraf, terwyl haker Rikus van Staden vir 'n vuishou betrap is.

Die WHS-spelers wat 'n Beukes-lynskop gejaag het, het die tuisspelers oor die kantlyn gedwing om 'n aanvallende lynstaan af te dwing. Van hierdie besit het die agterlyn met goeie verspreiding die linkervleuel Quirone Majiedt vir 'n drie in die hoekie deurgewerk.

Beukes self het die vierde en laaste drie met 'n individuele breekslag naby die pale gaan druk. WHS is opnuut binne tref­afstand gebring te danke aan 'n slim taktiese skoppie van agter 'n losskrum deur Tyrese de Wee, wat die hele dag gevaarlik was ongeag of hy op skrumskakel, losskakel of heelagter stelling ingeneem het.

• Meer vriendskaplike skolerugbywedstryde word oor die komende naweke beplan, met besonderhede wat mettertyd bevestig sal word.

Kommentaar

Republikein 2026-07-18

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer