WHS Koedoebulle wen op Outjo

Twee drieë teen een was genoeg om die skaal in die bloues se guns te swaai.
Andrew Poolman
Andrew Poolman



Beswaarlik die derde rugbywedstryd sover vir die ganse kalenderjaar 2020 in Namibië is laas Saterdag op Outjo gespeel, waar Samsung Windhoek Hoërskool se o.19 eerste span met 14-7 teen OK Foods Moria Privaatskool aan die wenkant was.

Dié uitslag volg op twee vorige vriend­skaplike skolewedstryde, beide op 1 Augustus, toe WHS met 26-0 te sterk vir Witel HTS was, terwyl Moria op sy tuisdorp met 12-10 teen KMC/JCC Windhoek Affies se kampioenspan kon spog.

Die Covid-19-pandemie het klaargespeel met Namibië se internasionale asook die klubseisoen en skolerugby wat vanjaar nooit aan die gang gekom het nie, met die uitsondering van die genoemde vriendskaplike skolewedstryde.

In sy opsomming van Saterdag se aksie sê mnr. Ainsley Daniels, hoofafrigter van die WHS Koedoebulle: “Ons verdediging was baie goed; die seuns het baie vertroue in mekaar gehad op die verdediging, veral gedurende die eerste 20 minute waar ons heeltyd op die agtervoet was.

“Ná die eerste waterbreek het die seuns dit begin regkry om fases op te bou en dit het gelei tot ons eerste drie deur Riaan Grové, die agtsteman. Geraldo Beukes (losskakel) het vroeër twee strafskoppe gemis, maar hy verdoel wel Riaan se drie.

“Ons het die tweede helfte swak begin, maar met verloop van tyd het dit verbeter, wat gelei het tot Riaan se tweede drie, verdoel deur Geraldo.

“In die laaste kwart het ons baie teen ons eie foute gespeel deurdat die spelers nie meer binne die strukture gebly het nie en op hulle eie wou speel.”

Moria se afrigter, mnr. Lukas Holtzhausen, sê vir sy span was dit 'n minder aangename ervaring. “Ons het gesukkel om aan die gang te kom ... wat mos gebeur as jy wedstryde speel sonder om behoorlik te kan oefen.

“WHS het ook ons voorneme bemoeilik om die spel vinnig te maak.”

Moria se enigste drie is deur sy kaptein en buitesenter Neil Holtzhausen gedruk, wat deur heelagter Naude Krone verdoel is. Holtzhausen se sentermaat Albert Oosthuizen het egter sy linkerbeen in 'n duikslag gebreek en ná sy operasie vandeesweek in Windhoek sal hy glo lank buite rekening wees.

WHS se kaptein, die flank Daniël Opperman, is ná die derde kwart hospitaal toe met 'n nekbesering en harsingskudding, maar hy is intussen ontslaan. Grové het ook die veld met ligte harsingskudding verlaat en sal ook 'n paar dae op die kantlyn moet deurbring.

Volgens afrigter Holtzhausen moes 'n laat verandering aangebring word toe sy losskakel, Maans Steenkamp, Vrydag tydens raakrugby gepootjie is en in die val sy pols gebreek het.

“Dit is jammer dat Covid die rugbyseisoen uitgewis het. Ek glo Moria kon 'n goeie jaar beleef het, maar ons moet maar daarmee vrede maak.”

Mnr. Daniël Botes as skeidsregter is agterna oorwegend geloof vir sy hantering van die wedstryd.

Kommentaar

Republikein 2025-12-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer