Whisky frustreer brandewyn
Emile Joubert - Brandewyn laat die wynbedryf dalk staan, maar hy gee hom ook ’n klomp grys hare.
Diegene wat steeds spot dat brandewyn-en-Coke Suid-Afrika se nasionale drank is, lewe in die verre verlede, want die brandewynmark se vonk is geblus. En dit raak ook die wynbedryf.
Twintig jaar gelede het brandewyn nie geweet wat om met sy gewildheid te maak nie. In 1997 het Suid-Afrikaners ongeveer 55 miljoen liter brandewyn geniet – dit wil sê meer as een gesonde liter per landsburger destyds.
Maar voordat ’n mens “met eisj” kon sê, het daardie mark wraggies vinniger geval as ’n Gupta-meevaller in die posbus by Tuynhuys.
Tans draai brandewynverkope by die 30 miljoen liter per jaar; hoewel my vriende by Rawsonville daarvan oortuig is dat hulle nog vyf of wat jaar kans moet kry om daardie verbruiksyfer terug te kry tot waar hy hoort.
Die insinking van die brandewynmark kan aan verskeie redes toegeskryf word. Boaan is die aanslag van die produsente van Skotse whisky en Amerikaanse en Ierse whiskey aan die begin van die millennium op die Suid-Afrikaanse mark.
20 jaar gelede is van die whiskies by die 26 miljoen liter in Suid-Afrika verkoop – minder as die helfte van brandewyn. Vandag draai eersgenoemde by die 36 miljoen liter, maar die syfer was op ’n kol bo die 40-miljoen-liter-kerf.
Whisky se sukses was deur en deur die resultaat van hoëvlakbemarking.
Met internasionale drankreuse soos Diageo agter hulle, kon whiskyhandelsmerke honderde miljoene rande aan reklame en promosies bestee. Saam met die stylvolle Johnnie Walker Black-advertensies – om maar een handelsmerk te noem – het whisky ook ’n glansryke en begeerlike internasionale beeld aan Suid-Afrikaanse verbruikers gebied; ietwat sexier as polisiekoffie “met eisj”.
Die feit dat whiskyverkope die laaste paar jaar ’n raps af is, beteken nie die wiel draai stadigaan vir die brandewynbedryf nie. Met sy of haar gediagnoseerde aandagafleibaarheid is die jonger drankverbruiker pal op soek na aksie uit nuwe vloeibare oorde. Vodka en jenewer bied alternatiewe; en moenie verbaas wees as rum die volgende groot ding gaan word nie; hoewel dit slegte nuus is vir diegene van ons met ’n goeie reuksintuig.
Dit is uiters frustrerend , want brandewyn verdien groter aansien in die plaaslike sowel as die buitelandse mark.
Die gehalte van Suid-Afrikaanse brandewyne is naas die superieure spiritus van konjak en armagnac die beste in die wêreld. Dit is danksy die pynlik streng regulasies wat die bedryf vir homself gestel het wat betref basiswyngehalte, dubbele distillering en ’n minimum potketelkomponent in elke brandewyn – asook voorgeskrewe eikehoutveroudering.
UITVOERMARK
Die gans met die goue eiers is natuurlik die uitvoermark. En net 8% van die land se brandewynproduksie word tans uitgevoer. Maar die buitelandse markte is toe onder die konjakhandelsmerke, en dit is baie gevra om ’n Amerikaner of ’n Chinees te oorreed om sy Rémy Martin XO te verruil vir ’n KWV 20 of ’n Van Ryn’s 15 uit Suid-Afrika.
Een van die slagoffers van hierdie brandewynstilstand is die bedryf van wingerdbou en wynmaak. Om een liter brandewyn te stook, word vyf liter wyn benodig. Dus kan ’n mens uitwerk watter uitwerking die daling van 55 miljoen liter tot 30 miljoen liter in brandewynverkope op die Suid-Afrikaanse wynaanbieding gehad het.
Die feit dat die land tans 1 000 ha wingerd per jaar verloor, kan myns insiens grootliks toegeskryf word aan die daling in die mark vir stookwyn.
Die ander tameletjie met alles is dat baie van die druiwe waarmee geboer en wyn wat tradisioneel vir stookwyn gemaak is, nou in die vorm van goedkoop laegehaltewyn in die mark beland.
Dit is iets wat die wynbedryf wraggies nie benodig nie. Die bou van wyn se beeld as ’n premieproduk om sodoende meer waarde vir die produksieketting te skep, is prioriteit nommer een.
Gevolglik is die volumes in liters hierbo genoem, eintlik irrelevant. Soos wyn s’n lê brandewyn se heil in die diens en skep van ’n mark wat bereid is om vir ’n gehalteproduk te betaal. Dit is die daarstelling van premiegehalte en ’n beeld van uitnemendheid wat sal toesien dat jy val of dat jy staan. - Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie