Die siel van 'n motor
Die siel van 'n motor

Die siel van 'n motor

Dani Booysen
Danie de Wet skryf:
Eugene Marais het ’n boek geskryf oor die Siel van die Mier. Ek wil ’n brief skryf oor die “Siel van die Motor”.
Deesdae se motors word al intelligenter en onafhanklik. Party parkeer al vanself, by ander weer word ’n spesiale digitale kabel by sy “wat-se-mi-call-it” ingedruk en woerts-warts word hy gediens, en van al sy kwale of moontlike kwale genees. Een van die dae ry ons almal nie meer op brandstof nie, maar op elektrisiteit wat gratis verskaf gaan word deur sonkragpanele. Ver is al gevorder om vir die motor te sê: “Home James,” en sonder om ’n vinger te verroer, word jy veilig by jou bestemming afgelaai. Dinge word gelaai onder die enjinkap wat dalk aanleiding kan gee tot allerhande verwikkelinge en ontwikkelinge.
Bogenoemde, net ter inleiding. My storie begin eintlik die nag wat ek my tjorrie per ongeluk buite gelos het. Word oud, vergeet belangrike dinge.
Die oggend toe ek moes werk toe, het ek tot my ontsteltenis ontdek dat sy die heel nag in die koue wind en weer gestaan het. Slierte stofvuil teen haar sye en die vensters beklad en dig met ’n liederlike, nat, moddergemors.
Maar toe ek die knoppie druk, toe vat sy onmiddellik. Gewillig tot die dood.
Daar eindig dit nie. Sy moet darem kan “toi-toi”, beswaar aanteken teen die uiters slegte behandeling wat sy van haar “baas” gekry het en sy doen dit dan ook deur te gil.
’n Onaardse aanhoudende gil – skreeu (of is dit nou skreeugil) bars los uit haar diepste binneste. Dis nou daar vanuit onder haar enjinkap.
Ek wil nog paai, maar die gekerm word al erger, veral as ek na die linkerkant draai. Dis nou die windkant soos sy gestaan het. Mense op straat, voetgangers en medevoertuiginsittendes staar my verbygang met soveel ontsteltenis aan dat ek binne minute ’n staat van absolute verleentheid bereik.
Reguit na my goeie vriend die motorwerktuigkundige en motorhawe-eienaar.
Ek draai regs die garageperseel binne. Sy skreeu soos ’n maer vark wat ter slagting gesleep word. Ek sit blitssnel af, en vertel, uitgeput, my storie vir die motordokter.
Sy winkbroue lig. Ons skakel aan, versigtig. Doodstil, slegs haar normale singende brom wat vergelyk kan word met die goddelike gesing van ’n Nagtegaal in ’n Duitse woud gedurende ’n maanlignag.
“Ja nè? Jy verbeel jou seker? Iets verkeerd met die ore? Wanneer laas het jy jou bloeddruk laat toets?”
Verleentheid in die rooi. Klim maar in en sonder ’n abnormale fluistering verlaat ek die motorhawe.
Tot by die eerste verkeerslig. Hier gilskreeu sy weer vir al wat sien en hoor hoe sleg ek haar die vorige nag behandel het.
Ek sluip die parkeerhawe binne. Onder protes en ’n gegil skakel ek af. Stilte. Salig.
Maak ’n afspraak (as ’n guns word dit toegestaan) vir na werk by die motorhawe. Dieselfde storie herhaal homself. Geskreeu tot by die werkswinkel. Dan ’n rustige, stroopsoete werksverrigting as die foutekenner wil luister wat verkeerd is.
So hou dit aan totdat ek na die vierde, onnodige besoek aan die motorhawe onder ’n gelag en gejuig van die werkslui moed opgee. Kapituleer. Smeek om vergifnis, nie by hulle die werksmense nie, by haar.
Na ’n week van elke aand se warm toemaak, van spesiale behandeling by die “wasplek”, saggies liefdeswoordjies fluister en vryf met ’n sagte doek waar dit blink en lekker is, hou die beswaarmakery eenklaps op.
Ek het haar belowe en ek hou streng daarby: Nooit los ek haar weer buite nie.
Sy verseker my aanhoudend met ’n liefdevolle, sagte gebrom, komende vanuit onder die enjinkap: ek is vergewe, maar moet net nie dat dit weer gebeur nie!
So, wie sê ’n motor het nie ’n siel nie.
Naskrif: Ek hoop nie sy lees my brief en kom agter ek noem haar my "ou tjorrie" nie.

Kommentaar

Republikein 2025-05-03

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer