Werkgewers van huishulpe moet opgawe indien
Werkgewers van huishulpe moet opgawe indien

Werkgewers van huishulpe moet opgawe indien

Die vorm kan voor of op 30 November by die naaste kantoor van die ministerie ingedien word.
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - Huishulpe se werkgewers moet vanjaar vir die eerste keer voor 30 November ’n opgawevorm by die ministerie van arbeid, nywerheidsbetrekkinge en werkskepping indien.

Op dié vorm moet onder meer hul eie besonderhede asook inligting oor hul huishulpe en dié se werksure aangedui word.

Dit volg nadat die ministerie nuwe werksvereistes, asook ’n nuwe minimumloon, in die Staatskoerant van 29 September 2017 afgekondig het.

Die vereistes geld vir alle werkgewers van onder meer werkers in huishoudings op dorpe, kokke, kinderoppassers, drywers, tuiniers, huisskoonmakers- en –oppassers.

Die opgawevorm kan by die naaste kantoor van die ministerie ingedien word - met die hand, per faks of as ’n e-pos.

Besonderhede soos beide partye se nasionaliteit, ID-nommers, aantal werksure, verlofdae en basiese salaris word op die vorm aangedui.

’n Voorbeeld van die vorm, asook die nuwe vereistes wat op 1 Oktober van krag geraak het, verskyn in die Staatskoerant.

Hiervolgens moet voltydse huishulpe nou minstens N$1 502,05 per maand, N$346,89 per week of N$69,37 per dag betaal word. ’n Huishulp moet N$8,67 per uur betaal word en deeltydse huishulpe moet N$43,35 per dag betaal word.

Die loon sluit ’n toelaag vir openbare vervoer, kos, klere en behuising uit. Huishulpe moet ook ’n uniform ontvang wat soos nodig vervang sal word.

Huishulpe wat vir vyf ure of langer werk, is geregtig op ’n etensuur en die werkgewer moet hulle van kos voorsien. Die partye kan ooreenkom om die etensuur tot 30 minute te verkort.

Huishulpe en hul werkgewers moet ook geskrewe kontrakte hê en hulle mag nie meer as 40 ure per week of agt ure per dag werk nie. Indien ’n huishulp oortyd werk, moet die huishulp elke keer daartoe instem en mag hulle nie meer as drie ure per dag of meer as 10 ure per week oortyd werk nie.

Huishulpe wat oortyd werk, moet N$13 per uur kry. Indien hulle op Sondae of openbare vakansiedae werk, moet hulle N$17,34 per uur ontvang. Diegene wat op dié dae vir minder as vyf ure werk, moet N$86,70 per dag ontvang.

Huishulpe wat by hul werkgewers inwoon, is geregtig op ’n kamer wat kan sluit.

Die kamer moet ook elektrisiteit hê indien die res van die huis dit het, asook ’n bed en matras. Die inwonende werker moet toegang tot skoon drinkwater, ’n toilet asook badgeriewe hê. Hulle mag besoekers in redelike ure ontvang en indien hulle die werkgewer daarvan in kennis gestel het.

Huishulpe wat elders woon en daagliks na hul werk met openbare vervoer moet reis, is geregtig op ’n vervoertoelaag.

Alle huishulpe moet by die Maatskaplike Voorsorgfonds (SSC) geregistreer word en huishulpe wat vyf dae per week werk, is geregtig op 30 dae se siekteverlof oor drie jaar.

Diegene wat ses dae per week werk, moet 36 dae se siekteverlof kry en ’n doktersbrief moet ingedien word indien die huishulp meer as twee dae van die werk af wegbly.

Huishulpe is ook geregtig op vyf dae betaalde menslikheidsverlof indien ’n nabye familielid sterf of ernstig siek is. Huishulpe wat vyf dae per week werk, is geregtig op 20 dae verlof per jaar, terwyl diegene wat een dag werk, geregtig is op vier dae se verlof.

Kommentaar

Republikein 2026-09-05

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer