Werkers word steeds soos diere vervoer
Werkers word steeds soos diere vervoer

Werkers word steeds soos diere vervoer

Maatskappye is reeds gewaarsku
Gerine Hoff
“Ek het het verneem daar is busse gekoop. Hulle gebruik seker maar nog die lorries omdat die werkers baie is,” het mnr. Paulus Efraim gesê oor die feit dat werkers op Aussenkehr nog steeds per vragmotor vervoer word.
Hy is die raadslid van die Karasburg-kiesafdeling waaronder Noord­oewer val.
Efraim het ook sy kommer uitgespreek oor die spoed waarteen met dié vragmotors op die grondpad gery word.
“Ek het nog nie daaroor gepraat nie, want die polisie en die Motorvoertuigongelukfonds (MVAF) het verlede jaar ná die groot ongeluk waarin die mense so seergekry het, die maatskappye gewaarsku oor hoe hulle hul werkers vervoer,” het hy gesê.
Volgens mnr. Frik Conradie, bestuurder van Cool Fresh Namibia, een van die maatskappye wat hul werkers tussen Aussenkehr en Noordoewer in vragmotors vervoer, het sy maatskappy glo vroeër vanjaar ’n bus gekoop, maar dit is intussen in ’n ongeluk beskadig.
“Die bus is nou al ’n geruime tyd by die mense wat dit moet regmaak. Toe ek so vier maande gelede hier begin werk het, was die bus hier en dit was nog splinternuut,” het Conradie gesê.
Cool Fresh Namibia is een van die Groenskema-besproeiingsprojekte wat onder die ministerie van landbou, water en bosbou se landbousake-ontwikkelingsagentskap (AGRIBUSDEV) val.
In Oktober verlede jaar is meer as 130 werkers ernstig beseer toe die vrag­motor waarin hulle vervoer is, omgeslaan het.
Elf werkers van die Nivex Grape Company wat ook in die ongeluk betrokke was, is in 2009 ernstig beseer toe twee van die maatskappy se vrag­motors wat met 81 werkers op pad werk toe was, gebots het en waarna een vragmotor omgeslaan het.
In daardie stadium het die minister van werke en vervoer, mnr. Erkki Nghimtina, in die Nasionale Vergadering gesê dit is die eerste keer in die geskiedenis van Namibië dat ’n ongeluk van só ’n omvang plaasgevind het.
Hy het ook gesê die ongeluk moet as waarskuwing vir groot en klein werkgewers dien om gehoor te gee aan die wet wat die vervoer van werkers reguleer.
“Die wet bevat spesifieke vereistes waaraan die eienaars van sodanige voertuie moet voldoen. Desondanks word hierdie duidelike wetlike bepalings daagliks op Namibië se paaie verontagsaam.”

Kommentaar

Republikein 2025-07-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer