Welwitschias wu00e9u00e9r sonder Lyn Jones
Welwitschias wu00e9u00e9r sonder Lyn Jones

Welwitschias wéér sonder Lyn Jones

Besluitnemers in Namibië sal glo eers rustig gaan sit om die pad vorentoe te deurtrap.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Lyn Jones se bedanking as hoof­afrigter van die Namibies gebaseerde amateurspan, die Windhoek Draught Welwitschias, het as 'n verrassing vir die rugbypubliek gekom.

Die 54-jarige Wallieser het verlede week na sy geboorteland teruggekeer, wat niks vreemd is nie omdat die Welwitschias se verpligtinge in die SuperSport uitdaagreeks pas afgehandel is en die span eers laat in Augustus weer in die Curriebeker eerste liga sal meeding.

Republikein verneem dat Jones uit Wallis sy bedankingsbrief aan die Namibië Rugbymaatskappy gestuur het en dat hy voor sy vertrek net enkele individue van sy planne ingelig het.

Die Rugbymaatskappy se uitvoerende hoof, mnr. Mervin Green, het gistermiddag by navraag aan die koerant bevestig dat Jones in 'n baie bondige e-posboodskap sy bedanking ingedien het en bloot aangedui het dat sy tyd aangebreek het om te gaan.



RAAD SAL BESLUIT

Die nasionale afrigter en direkteur van rugbysake, Phil Davies, vertrek vanoggend met sy Namibiese span na Marokko, waar 'n kwalifiserende Wêreldbeker-wedstryd teen Marokko komende naweek voorlê.

“Die Rugbymaatskappy se raadslede en Phil sal by 'n latere geleentheid die saak bespreek en op 'n pad vorentoe besluit. Dit het vinnig gebeur, maar ons gaan nie oorhaastig aannames maak of die saak vooruit loop nie. Daar is nie rede om gejaagd te raak nie,” het Green gesê.

Jones het sedert sy aankoms vroeg in 2017 'n beduidende verskil gemaak om die Welwitschias 'n kompeterende faktor in die Suid-Afrikaanse provinsiale kompetisie te maak.

Dit ly geen twyfel nie dat Jones 'n uitgeslape keurder is wat grootliks raakgevat het met sy spankeuses. Sy primêre rol om die grondslag te vergroot van plaaslike spelers wat op provinsiale vlak of hoër kan meeding, het hy beter as die meeste van sy voorgangers gespeel – ondanks die voorspelbare terugslae wanneer hy voor en tydens toetsdatums van sy beste spelers aan die nasionale span moes afstaan.

In die 2017 Curriebeker eerste liga het die Welwitschias soos volg gevaar: Verloor teen Griffons op Welkom (59-66); klop Oostelike Provinsie in Windhoek (51-25); verloor teen die Valke in Windhoek (47-56); verloor teen die Luiperds op Potchefstroom (29-78); verloor teen SWD Arende in Windhoek (26-32); verloor teen Grens Bulldogs in Oos-Londen (25-26); verloor teen Boland Kavaliers op Swakopmund (24-26).

Kritici wat dalk hul neuse vir dié vertoningslys optrek, hou duidelik nie rekening dat die Namibiërs die vorige jaar 90- en honderdtalle teen die meeste van dié spanne afgestaan het nie.

In die sewe wedstryde teen dieselfde opposisie is die punteverskil teenoor twaalf maande tevore vanaf 522-73 tot 313-267 laat krimp en het die Namibiërs ook hul getal drieë gedruk (van 10 tot 38) en drieë afgestaan (van 75 tot 44) dramaties verbeter.

Die Welwitschias het feitlik elke keer tot in die finale minute nog die uitslag in hul greep gehad en het in die proses 14 ligapunte versamel. Die doelwit is verklaar om vanjaar vir 'n plek in die halfeindronde van die Curriebeker eerste liga mee te ding.

Jones was vroeg vanjaar in die nuus dat hy nie na Namibië sou terugkeer nie en 'n pos in Wallis aanvaar het. Die rugbybase in Namibië het egter die verhouding herstel en hy het vanjaar sy werk met die Welwitschias voortgesit.

Jones het einde 2017 sy frustrasie laat blyk dat hy geen langtermyn kontrak met Namibië gehad het nie en gevolglik nie sy toekoms of sy rugbysake behoorlik kon beplan nie.

Op die vraag of daar steeds rede vir kontraktuele ontevredenheid kon wees, het Green gister geantwoord: “Oor wat in 2017 of vroeër gebeur het, kan ek my nie uitspreek nie, maar toe Lyn vroeg vanjaar sy terugkeer gemaak het, het ons 'n baie duidelike kontrak met hom gehad wat aan die einde van 2018 hersien sou word, met die oog op 2019 wat die laaste jaar van Namibië se toelating in die driejaartermyn van provinsiale kompetisie is.

“Ek dink nie sy kontrak het 'n invloed op sy bedanking gehad nie. Inteendeel, hy was baie tevrede toe hy teruggekom het om weer hier verbind te wees. As daar probleme was, weet ek nie daarvan nie.”

Jones het gister nie op die koerant se vrae per e-pos geantwoord nie.

Kommentaar

Republikein 2026-03-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer