Welgedaan, Eagles!

Die Namibiërs se toernooi is op 'n einde, maar op die momentum van hul welslae die afgelope weke kan en moet voortgebou word.
Andrew Poolman
Andrew Poolman – Watter soort ontvangs kan Namibië se krieketspan môre verwag ná die wyse waarop hulle die land by die T20 Wêreldbeker verteenwoordig het?

Hul aankoms op die Hosea Kutako Internasionale Lughawe is vir 09:45 môre bestem, ná die Eagles se laaste hardnekkige vertoning gisteraand teen die magtige Indië wat ook reeds uitgeskakel was voor die halfeindronde wat môre aanbreek.

Onder Gerhard Erasmus, hul inspirerende kaptein wat die volle toernooi met 'n gebreekte vinger gespeel het, en Pierre de Bruyn as afrigter het Namibië die afgelope meer as 40 dae in die Verenigde Arabiese Emirate die land stewig tussen die grotes van wêreldkrieket tuisgemaak en tallose nuwe vriende en bewonderaars vir die land gewen.

Min mense sou vooraf voorspel het dat Namibië hom tot so laat in die toernooi steeds as 'n hardnekkige faktor sou vestig.

'n Deel van Namibië se kleurvolle bydrae tot die toernooi sluit in dat David Wiese se elf sesse in agt wedstryde tans net deur een kolwer (Jos Buttler van Engeland met 13 sesse in agt wedstryde) oortref word.

Hiermee saam het Jan Frylinck ook sy aansien as die straatvegter van die Namibiese linkerarm-snelkwartet gestand gedoen. Hy eindig met nege paaltjies in sewe wedstryde – tans gesamentlik in die vyfde posisie van voorste paaltjienemers in die toernooi. Wiese en Ruben Trumpelmann het met ses paaltjies elk ook gereeld deurgebreek.

In Namibië se ewige strewe om meer gereelde topklas kompetisie te verseker, is dit reeds 'n uitgemaakte saak dat die Eagles met hierdie puik debuutverskyning in die T20 Wêreldbeker ook reeds hul regstreekse kwalifisering vir volgende jaar se weergawe in Australië vasgeknoop het.

Gister in die Dubai-krieketstadion het Indië se ikoniese Virat Kohli, in sy laaste wedstryd as kaptein van die nasionale span, die loot gewen en Namibië ingestuur. Hoewel paaltjies in die middelorde weer gereeld deur Indië se vaardige boulaanval laat kantel is, het die Eagles darem 'n skaflike totaal van 132/8 gehaal.

Dit was grootliks te danke aan belowende kolfbeurte deur Stephen Baard (21 van 21 balle, 1x4 1x6), David Wiese (26 van 25 balle, 2x4) en die vasberade onoorwonne kolfpaar Jan Frylinck (15* van 15 balle) en Ruben Trumpelmann (13* van 6 balle, 1x4 1x6).

Die draaier Ravi Jadeja (3/16 in 4 boulbeurte) is as speler van die wedstryd aangewys. Saam met Ravi Ashwin (3/20 in 4) en Jasprit Bumrah (2/19 in 4) het die Indiese boulaanval met hul vaardighede die Namibiërs meestal onder bedwang gehou.

In Indië se antwoord het Rohit Sharma (56 van 37 balle, 7x4 2x6) en KL Rahul (54* van 36 balle, 4x4 2x6) die grenshoue ingeryg om te verhinder dat die Eagles 'n greep op hulle kon kry.

FOTO’S
Jan Frylinck was een van vele Namibiërs wat beide as bouler en kolwer hul aandele grootliks laat styg het. Foto Nampa/AFP

Ruben Trumpelmann reageer op een van Rohit Sharma se kolfhoue tydens gister se wedstryd in die Dubai-krieketstadion. Foto Nampa/AFP
Die spankapteins Gerhard Erasmus en Virat Kohli skud blad ná gister se wedstryd in die Dubai-krieketstadion. Foto Nampa/AFP

Kommentaar

Republikein 2025-05-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer