Wees soos die weer
Wees soos die weer

Wees soos die weer

[email protected]
Andrew Poolman
Wees soos die weer. Doen jou ding ongeag.

Die weer laat homself nie voorsê nie. Selfs al dring wetenskaplikes en weerkundiges aan dit sal reën, word die weer glad nie daardeur beïndruk nie. Alle tekens mag dui op een of die ander weervoorspelling, maar die weer doen steeds net soos hy goeddink.

Daar is beslis ’n siklus, ’n stelsel, oorsaak en effek, maar die weer pas dit op sy eie wyse toe. Hy doen net wat hy wil.

Wees soos die weer. Moet jouself nie te veel deur die aantygings beinvloed nie. Hou jou eie koers. Slaan jou eie rigting in en bly op daai pad, al kom wat.

As jy besluit om af te wyk, doen dit slegs weens jou eie oortuiging. Besluit self, vir jouself. Wees jou eie mens. Hardkoppig as dit moet, maar beslis toegewy en met uithouvermoë.

Ek noem hierdie benadering en bevorder dit, omdat die wêreld verander, en vinnig. Die wêreld verander so vinnig dat dit moeilik word om sy trant te voorspel. Wie weet wat die toekoms bring, maar wees verseker, die toekoms kom met ’n spoed.

Vir ons wat wêreldnuus volg, is die spoed van die aankoms van die toekoms soms asemrowend. Sal jy glo die mensdom het hierdie jaar reeds ruimteskepe Mars toe gestuur, dat daar nou meer as 3 000 werkende satelliete om die aarde wentel, of dat reeds 60% van die mensdom deesdae die internet gebruik?

Internasionale betrekkinge ontwikkel daagliks en die Verenigde State van Amerika se oorheersing van wêreldpolitiek is deur China tot ’n einde gebring.

Afrika staan reg om handel op die vasteland te bevorder, maar ly steeds onder ’n leierskap te besorg oor hul eie mag en rykdom, om na sy groeiende jong bevolking om te kan sien. Selfs hierdie oeroue opvatting moet val namate meer inwoners nuwe geleenthede vind en minder op die staat staatmaak.

Paaie word steeds in Namibië gebou en verleng, al het die meeste burgers nie ’n dak oor hul koppe nie, en die wêreld sien Namibiërs oorwegend in ’n goeie lig terwyl inwoners mekaar veel minder vertrou danksy openbarings van skandelose korrupsie en selfverryking nogal waarskynlik deur die land se eertydse minister van justisie, saam met sy eweknie van mariene hulpbron en visserye. Wil jy nou meer.

Baie van die veranderinge bring ook nuwe geleenthede. Bly op die uitkyk hiervoor. Moet nie te veel aandag aan die res van die gekekkel gee nie. Die ongelooflike finansiële sukses van profete en ander bedrieërs beeld net uit hoe maklik beloftes van redding in ’n lokval verander word. Glo liewer in jou eie persoonlike verhouding met jou skepper, en los daai helde om die liggelowiges te kul.

Bly jy in jou baan en los die res uit. Bly jy by jou oortuiging, tensy jy van beter leer. Bly jy by jou prioriteite en hou by jou eie besluite, solank daai besluite self deeglik deurdink is.

Wees soos die weer en laat dit reën as dit moet, of laat die son skyn as jy kan. Waai soos die wind of raak koud teenoor die verleiers. Jy is mos ook ’n natuurlike verskynsel, of hoe nou?

Kommentaar

Republikein 2026-05-16

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer