u2018Wees u2018n skepper van jou voortbestaanu2019
u2018Wees u2018n skepper van jou voortbestaanu2019

‘Wees ‘n skepper van jou voortbestaan’

Piet Gouws lei die NLU
Elvira Hattingh
Elvira Hattingh - In van die uitdagendste tye ooit in die land se boerderygeskiedenis, neem Piet Gouws die leisels as nuwe president van die Namibië Landbou-unie (NLU) oor.

Nietemin het hy hoop en moed.

“Dit ís uitdagende tye en dit raak al meer intens, veral met die gepaardgaande droogte wat vir produsente baie stresvol is.

“Ons kan nie bekostig dat die droogte meebring dat ons kundigheid en produksie verloor nie. As produsente vervang word, neem dit tyd voor ‘n stuk grond weer in produksie kom. Dus moet ons hulle lei,” sê Gouws.

“Ons staan aan die begin van ‘n nuwe reënseisoen en daar lê swaar jare agter ons - vir party was dit sewe, vir party vyf en vir ander vier. Ongeag hoe lank, dit was ‘n moeilike tyd.

“Weervoorspellings is verwarrend en produsente se emosies begin weer wipplank ry. Ek wil aansluit by wat die predikant tydens die opening van die Landbouvooruitskouinskonferensie gesê het, naamlik dat ons nie slagoffers moet wees nie, maar help skep aan ons eie voortbestaan met behulp van die Hoër Hand.”

Hy sê van die belangrikste sake nou op kommersiële landbou se agenda is die grondeienaarskap en uitvloeisels van die Nasionale Grondkonferensie wat ter sprake gaan kom, grondbelasting asook die volhoubaarheid van boerderye ná die droogte.

Gouws sê sekere strukture is geskep wat sy leierskap makliker sal maak.

“Die ondersteuning wat ek het in terme van my bestuur, oftewel die NLU se uitvoerende raad asook die NLU-kantoor, bied ‘n goeie basis waarvandaan ek kan werk. Dit maak dit baie makliker,” het Gouws in ‘n video-onderhoud aan Die Boer gesê.

Hy sê daar word voortgebou op die NLU se visie en missie, want dit is ‘n organisasie wat reeds sewentig jaar lank bestaan. Hy sê hulle beoog om verhoudinge met die regering en die korporatiewe gemeenskap te versterk en selfs uit te bou.

“Die idee is dat almal in die land wat met kommersiële landbou gemoeid is, eindelik met een stem praat oor hoe die bedryf moet lyk en wat ons in die toekoms daarvan gaan verwag. Ook moet besin word oor wat ons bydrae tot die ekonomie is en tot die voortbestaan van nie net landbou nie, maar die totale bevolking van hierdie land.”

Hy het produsente ‘n nat nuwe reënseisoen en geseënde Kersfees en Nuwejaar toegewens.

“Mag ons ná hierdie droogte terugkyk en sê deur die Hoër Hand se genade, met wysheid en insig, het ons hierdie pad geloop en planne beraam om die uitdagings te oorkom - soveel so dat ons stories vir ons kleinkinders hieroor kan vertel,” het Gouws gesê.

Kommentaar

Republikein 2025-05-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer