Wat maak die outistiese brein anders?

Jacqueline Louw
April is outisme bewustheidsmaand en as deel van hierdie veldtog plaas Kollig die tweede aflewering van ’n reeks artikels om die fokus op hierdie steurnis te plaas.
Outisme is ’n aangebore toestand waarin die brein oor minder senuverbindings beskik as die tipiese brein.
Dit veroorsaak dat daar nie die interne samehangendheid, koördinasie van dink, doen en voel is nie.
Daar is nie die spontane, intuïtiewe filterproses en regulering van inkomende en uitgaande informasie en ervarings, vloeiendheid van een gedagte of aksie na die volgende en die konsekwente prosessering van inligting en sintuiglike ervarings wat die tipiese mens as vanselfsprekend aanvaar nie.
Dis ’n gebreekte spieël-effek: blindekolle, gefragmenteerde persepsie en prosessering.
Die outistiese brein is ’n rugbyspan wat die eerste keer saamspeel. Sonder ’n kaptein.
Dit is in wese ’n proses­seringsversteuring, vergelykbaar met selfoonopvangs in sekere areas: Soms hoor jy die hele sin, soms die helfte, soms is jy nie seker wat jy gehoor het nie en soms hoor jy net metaalagtige knarsgeluide!
Sintuie is satellietskottels, die brein die dekodeerder. Die outistiese dekodeerder werk wisselvallig. Die gevolglike uitsending is daarom ook wisselvallig.
Soos ’n sleg gekrapte ou langspeelplaat wat in die middel van die sin vashaak of van wysie verander.
Terwyl die tipiese brein soveel as 80% van inligting op onbewustelike vlak verwerk, dikwels vanuit verskeie bronne en minimale energie daarvoor gebruik, gebeur hierdie prosesse in outisme grotendeels op bewustheidsvlak, in enkelstroom en in volgorde. Daarom vereis dit meer energie en kan die persoon oorweldig word met te veel inkomende inligting of te veel eise wat onmiddellike reaksie vereis.
Hierdie gebreekte spieël­beeld is die outistiese persoon se enigste realiteit. Enige ander realiteit is moeilik om te verstaan en moet meganies aangeleer word. Die persoon se leefwêreld is meer geïnternaliseer, binne-in homself, van buite af na binne in kontras met die tipiese van binne af na buite.
Outistiese persone word gebore met ’n gevoel van interne en eksterne gediskonnekteerdheid, onbereikbaarheid en betaal ’n hoë prys in terme van sosiale en persoonlike verwerping.
Die persoon ervaar dieselfde emosies, het behoefte aan aanvaarding en liefde, maar het ’n funksionele probleem om dit te kommunikeer en ander se kommunikasie te verstaan.
Dit is vergelykbaar met ’n vreemde taal en kultuur. Nie net verstaan jy nie wat om jou aangaan en wat die mense aan jou probeer verduidelik nie, jy self word ook nie verstaan nie.
Die Outisme Spektrum is ’n glyskaal waarlangs simptome gegradeer word na gelang van die persoon se vermoëns.
Vlak 1 kan onafhanklik leef en oor die weg kom met min of geen hulp.
Vlak 2 kan relatief onafhanklik wees maar benodig gereelde hulp in sekere areas.
Vlak 3 is geheel en al van ander afhanklik.
Tans word gereken dat een uit elke 68 persone deur outisme geraak word.
Historiese persone wat met outisme verbind word is Vincent van Gogh, Albert Einstein, Isaac Newton, Michelangelo, Leonardo da Vinci, sangeres Susan Boyle, aktrise Daryl Hannah en akteur Dan Akroyd. Die name van Bill Gates, Steve Jobs, Steven Spielberg, Michael Jackson en Robin Wil­liams word ook genoem maar is nie bevestig nie.
Die outistiese persoon is uniek in meer as een opsig. As intense, komplekse, kreatiewe, “multi­dimensionele” mense is hulle nie net uniek soos elke ander persoon nie, maar het elkeen ’n unieke kombinasie van uitdagings, swakhede en sterk punte. Die gesegde is: As jy een persoon op die Spektrum leer ken het, ken jy een persoon op die Spektrum.
Ina Scheepers is stigter van Auties & Aspies Namibia, ‘n Facebook ondersteunings-, inligtings- en aktivismegroep vir volwassenes op die spektrum en hul geliefdes.

Kommentaar

Republikein 2025-12-14

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer