Wat kos kernafval Eskom?
Wat kos kernafval Eskom?

Wat kos kernafval Eskom?

Jo-Mare Duddy Booysen
Francois Williams

Eskom het R10,982 miljard opsy gesit om te betaal vir die koste om die Koeberg-kernkragsentrale op te ruim en die omgewing te herstel as dit oor sowat 30 jaar sou moes sluit.
Dié bedrag word in die nuutste beskikbare jaarverslag van Eskom genoem.
Khulu Phasiwe, woordvoerder van Eskom, sê die koste om Koeberg af te takel as die kragstasie die einde van sy leeftyd bereik het, is Eskom se volle verantwoordelikheid.
Eskom het oor die afgelope 32 jaar waarin Koeberg al in bedryf is die laevlak- en intermediêre radio­aktiewe afval van die ­kragstasie ­suksesvol saam met die Kernenergiekorporasie van Suid-Afrika bestuur onder toesig van die Nasio­nale Kernreguleerder van Suid-Afrika, sê Phasiwe.
“Die verantwoordelikheid vir die finale berging en bestuur van radio­aktiewe afval lê by die regering, en sal deur die agentskap vir radioaktiewe afval uitgevoer word. Die koste daarvan word gedra deur die skeppers van die radioaktiewe afval, wat in dié geval Eskom is.”
Phasiwe verduidelik die koste vir die opruiming van Koeberg word jaarliks bygewerk wanneer Eskom sy jaarverslag uitreik.
Die Koeberg-kragstasie genereer sowat 32 ton gebruikte kernbrandstof per jaar, volgens ’n inligtingstuk van Eskom.
Daar is reeds byna 1 500 ton se gebruikte kernbrandstof wat op die perseel geberg word.
Teen dié tempo sal daar dus oor die volgende 30 jaar van Koeberg se leeftyd nog 960 ton se brandstof­afval gegenereer word.
Koeberg se laevlak- en intermediêre radioaktiewe afval word by die Vaalputsgerief in die Noord-Kaap geberg. Die twee spesiale tenks by Koeberg (een vir elk van die twee kernreaktors) vir die berging van hoëvlakkernafval kan volgens Eskom elk sowat 1 500 brandstof-monteerstelle bewaar.
Elke monteerstel weeg rofweg 670 kg. Daar is reeds 1 065 stelle in eenheid 1 se tenk en 1 053 stelle in eenheid 2 se tenk, met 112 stelle wat in 4 afsonderlike houers geberg word. Daar is volgens berekening dus nog net plek vir 882 brandstofstelle, oftewel 18 jaar se brandstofafval, in die tenks.
Eskom sê hy sal voortgaan om die gebruikte brandstof op die perseel te bêre – hetsy in die tenks of in afsonderlike bergingshouers totdat ’n nasionale bergplek gevestig is.
Met die regering se plan om 9,6 GW se nuwe kernkragstasies te bou neem die druk toe om dié bergplek gevestig te kry.- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-11-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer