Wat jy oor vrye handel in Afrika moet weet
Kommentators wys daarop dat Afrikalande op groter skaal met hul voormalige koloniale heersers handel dryf as onder mekaar.
Die nuwe handelsooreenkoms vir Afrika (AfCTA), wat vandeesweek deur 40 lande onderteken is, is die grootste handelsooreenkoms tot nog toe sedert die Wêreld-handelsorganisasie (WHO) gestig is.
Altesame 40 staatshoofde van die Afrika-unie (AU) het Woensdag in Kigali, Rwanda, 'n vryhandelsooreenkoms onderteken om handel op die vasteland te vergemaklik.
Hier is 'n paar dinge wat jy moet weet oor dié ooreenkoms.
1. Waar kom die ooreenkoms vandaan?
Die aanvoorwerk vir die ooreenkoms is reeds in 2011 gedoen by die onderskeie streeksorganisasies, soos die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).
In daardie jaar het dr. Rob Davies, minister van handel en nywerheid, op 'n ekonomiese forum in Kaapstad die moontlikheid van 'n vryhandelsone wat strek van die Kaap tot by Kaïro by die SAOG geopper.
Afrika-staatshoofde het in 2012 in beginsel by die AU tot 'n vryhandelsooreenkoms vir die vasteland ingestem. Onderhandelings hieroor het in 2015 begin en AfCTA het 'n leierprojek van Agenda 2063 van die AU geword. Dié program is Afrika se eie ontwikkelingsvisie.
Indien al 55 lidlande van die AU uiteindelik die ooreenkoms onderteken, sal dit meer as 1,2 miljard mense met 'n gesamentlike bruto binnelandse produk (BBP) van meer as US$2 500 miljard byeenbring. Gemeet aan hierdie getalle is AfCTA die wêreld se grootste vryhandelsooreenkoms sedert die WHO ingestel is.
2. Wat behels die nuwe handelsooreenkoms vir Afrika (AfCTA)?
Die ooreenkoms is daarop gemik om tariewe op tot 90% van die goedere wat tussen Afrikalande verhandel word, te skrap.
Verder word dienste ook van tariewe vrygestel en die ooreenkoms pak ook handelsversperrings soos lang vertragings by grensposte aan.
Wedersydse erkenning van standaarde, lisensiëringsooreenkomste en sertifisering van diensverskaffers sal beteken dat alle verskaffers van voorraad of dienste toegang tot mekaar se markte kan hê op voorwaardes wat ewe gunstig vir almal is.
Uiteindelik beoog die ooreenkoms vrye beweging van mense oor die vasteland heen en 'n enkele geldeenheid as deel van die vryhandelsgebied. Dit is egter nog ver in die toekoms.
3. Watter voordele hou die ooreenkoms vir maatskappye in?
Met gemiddelde tariewe van 6,1% is dit tans baie duurder vir maatskappye in Afrika om na ander Afrikalande uit te voer as om na ander vastelande uit te voer.
Trouens, kommentators wys daarop dat Afrikalande op groter skaal met hul voormalige koloniale heersers handel dryf as onder mekaar.
Die vasteland se uitvoermandjie word deur grondstowwe oorheers, met brandstof wat meer as die helfte van ons uitvoer na die res van die wêreld beslaan. Goedere wat in Afrika se fabrieke vervaardig word, was in 2016 minder as 20% van die totale uitvoere.
As AfCTA geleidelik tariewe op handel op die vasteland skrap, sal dit die koste van sake doen aansienlik verlaag.
“Onthou, China verkoop enigiets van goedkoop teddiebere tot T-hemde in Afrika sonder dat hy internasionale arbeidsprotokolle onderteken, so ons eie fabrieke ding nie op 'n gelyke voet mee nie,” sê dr. Roelof Botha, onafhanklike ekonoom en deeltydse dosent aan Gibs.
“As ons dit makliker maak om onderling handel te dryf, kan ons die omset van Afrika se fabrieke laat toeneem en kan hulle skaalvoordele verkry.
“Dit sal op sy beurt die eenheidskoste van ons vervaardigde produkte verlaag, meer werk skep en 'n teenvoeter bied vir die instroming van goedkoop produkte uit China.”
4. Wat is die uitdagings vir die ooreenkoms?
Nigerië, wat saam met Suid-Afrika meer as die helfte van die vasteland se BBP lewer, het dit nie onderteken nie en vir “meer tyd” gevra. Dit dui op kommer in sekere lande dat hulle nie beter daaraan toe sal wees onder dié ooreenkoms nie.
Afrika bestaan uit 'n diverse groep lande wat ontwikkelingsvlak behels, en dit gaan moeilik wees om 'n wen-wen-situasie vir almal te skep.
Die hoop is dat minder ontwikkelde lande by streekswaardekettings sal inskakel wanneer handelskoste verlaag word en beleggings makliker oorgrens gedoen kan word.
'n Navorsingstuk deur die Verenigde Nasies (VN) se konferensie oor handel en ontwikkeling (Unctad) gee toe die uitskakeling van alle tariewe tussen Afrikalande sal 'n jaarlikse hap van US$4,1 miljard uit dié lande se inkomste neem.
Die VN bereken egter die ooreenkoms sal 'n maatskaplike voordeel van US$16,1 miljard per jaar bring.
Die strewe na een geldeenheid vir die vasteland sal volgens Botha “nie op mediumtermyn” 'n werklikheid word nie.
“Selfs die Europese Unie sukkel om sy geldeenheid algemeen aanvaar te kry en in Afrika is die dilemma dat daar nie fiskale samehang is waar die lande se skuldvlakke byvoorbeeld op min of meer dieselfde vlak is nie.”
5. Wat is die volgende stappe voordat die ooreenkoms in werking tree?
Die ooreenkoms wat Woensdag onderteken is, bevat die regulatoriese raamwerk vir die vryhandelsgebied. Dit moet nou deur die onderskeie lande bekragtig word.
Die ooreenkoms sal net van krag word as meer as 15 lande dit goedgekeur het.
Die tweede fase van die onderhandelings sal later vanjaar begin en fokus op voorwaardes wat verband hou met belegging, mededinging en intellektuele eiendomsreg.
Die AU moet ook 'n sekretariaat vestig wat 'n ogie oor die ooreenkoms se uitvoering kan hou.
Daar word gehoop dat lande soos Nigerië, Uganda en Burundi, wat nie Woensdag die ooreenkoms onderteken het nie, dit mettertyd sal doen. – Netwerk24/Bykomende bron: Tralac

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie