Warriors finaal gefnuik, maar Samaria sien hoop

Sokker
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die Brave Warriors het gister by die Orlando-stadion in Johannesburg hul laaste kwalifiserende wedstryd in groep H vir die 2022 Wêreldbeker teen Togo met 1-0 verloor.

Die Brave Warriors het hul alles gegee vir 'n oorwinning wat hulle tweede in die groep ná Senegal sou laat eindig, maar die hoop het beskaam toe hul kaptein Peter Shalulile met 'n strafdoel misluk het – een van weinig doelkanse vir die dag.

Hoewel Togo deurentyd met gebiedsvoordeel en meer balbesit oorheers het, was die telling tot in die 88ste minuut steeds 0-0. In die 80ste minuut het Ambrosius Amseb 'n briljante solopoging na die doelkas van Togo gemik, maar die bal is veilig deur Togo se doelwagter gekeer.

'n Hoekskop onmiddellik ná Amseb se futiele poging het windskeef en skadeloos verby die Togo-doelkas geseil sonder dat 'n Warrior daaraan kon raak. Denzil Hoaseb swaai sekondes later so byna die telbord in die Warriors se guns, maar sy skop trek rakelings oor die doelhok.

In die laaste vier minute val Togo die Warrior-doelkas genadeloos aan en Lloyd Kazapua, die Namibiese doelwagter, red sy span met twee uitstekende stukkies keerwerk. Dis egter in die 88ste minuut wat Togo opnuut sy snellers loslaat en Euloge Placca rond netjies af vir die 1-0 wendoel.

In die laaste minuut van speeltyd kry Namibië 'n vryskop voor die Togo-doelkas, maar Willy Stephanus se skop trek regs verby. Die drie minute ekstra tyd lewer ook geen positiewe resultate vir die Warriors op nie.

Die finale puntestand in groep H: 1 Senegal (16 punte, dring deur na die derde en finale ronde van kwalifisering), 2 Togo (8), 3 Namibië (5), 4 Kongo (3).

Die derde posisie is ietwat van 'n bitter pil nadat die veldtog so belowende weggespring het, maar afrigter Bobby Samaria sê daar is baie om op voort te bou vir toekomstige toernooie.

“Ons het geweet hierdie ouens sal moeilik geklop word nadat ons hulle reeds in Togo (met 1-0) geklop het.

“Met alles in ag geneem, was dit 'n goeie vertoning. Ons het met tye goed gespeel. Dis net jammer ons kon nie daai strafdoel afrond nie.”

Vir Shalulile het sy vyfde doel van die kwalifiserende reeks vanaf die strafskopmerkie gewink, maar hy kon nie daarmee slaag nie.

Samaria sê: “Onthou toe ons begin het, het ons 'n baie jong span gehad, wat baie goed gevaar het. Die enigste span teen wie ons (voor gister) verloor het, was Senegal. Dit was 'n moeilike groep en ons sou altyd die buiteperd wees, maar ek reken ons het mense verras.”

Namibië het al sy tuiswedstryde in Johannesburg gespeel vanweë werk wat aan die Sam Nujoma-stadion in Windhoek gedoen moet word om dit tot op die Konfederasie van Afrika-sokker se verlangde standaard te bring.

Kommentaar

Republikein 2025-08-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer