Warriors bal vuis in Cosafabeker-groep

Elmo Kambindu was die held ná die vroeë druk wat sy span aanvanklik moes oorleef.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Die Tafel Lager Brave Warriors se aanslag op die Cosafabeker het nou behoorlik momentum, ná gisternamiddag se sege met 2-0 teen Zimbabwe in die Nelson Mandelabaai-stadion in Port Elizabeth (nou Gqeberha).

Ná die span se wedstryd nommer twee is die voorspeler Elmo Kambindu welverdiend vir die tweede keer as speler van die wedstryd bekroon.

Dié uitslag was ondanks al die druk wat die Brave Warriors in die eerste helfte met skaars 40 persent balbesit teen die knaende aanvalle van Zimbabwe moes afweer.

Hoewel Zimbabwe, die sesmalige Cosafa-titelhouers, sake gedikteer het, kon hulle met meer as 'n handvol pogings na die doelkas teen rustyd geen vrug vir hul arbeid op die telbord wys nie.

Die wending het in die 70ste minuut aangebreek toe die Zimbabwiese verdedigers hulle misgis en sommer self Namibië se eerste doel aangeteken het. Kambindu was aan die voorpunt om dié verwarring te veroorsaak toe sy aangee rondgebons het om vanaf die verdediger Qadr Amini se borskas verby die doelwagter gedeflekteer te word.

Sestien minute later is die Oos-Afrikane se lot verseël toe 'n netjiese kopskoot van Isaskar Gurirab die verdedigers so platvoet betrap het dat Kambindu genoeg spoed en spasie kon hê om die Zimbabwiese doelwagter Washington Arubi geen kans te gun om die tweede doel te keer nie.

In gister se beginspan het Charles Hambira vir Denzil Haoseb in die middelveld vervang.

Hambira was saam met Ananias Gebhardt verantwoordelik om Zimbabwe se skerpskutters aan bande te lê en dit het beslis gewerk.

Bobby Samaria, hoofafrigter van die Warriors, het gesê: “Of ons in die semifinaal gaan speel, het alles van dié wedstryd afgehang. As ons verloor het, sou ons in die volgende twee botsings soveel meer moes doen om Zimbabwe in te haal.

“Alle eer aan die spelers wat ons plan B in die tweede helfte perfek uitgevoer het. Ek moes Marcel Papama vervang, want hulle het hom geïsoleer en hy kon nie aanvallend speel nie. Dynamo was ná sy tweede geelkaart in twee wed­stryde 'n risiko en ek moes hom vervang, want hy sal nou reeds vir ons volgende wedstryd teen Malawi ook nie oorweeg kan word nie.

“Die eerste helfte het nie gewerk nie, maar ons taktiek in die tweede helfte was in die kol. Dis lekker om te weet ons staan met een voet in die semifinaal. Maar ons hou ons voete op die grond; hierdie wed­stryd is verby en ons fokus nou op die volgende botsing.”

Dynamo Fredericks (10de minuut), Ivan Kamberipa (52) en Charles Hambira (78) het geelkaarte ontvang, terwyl Shadreck Nyahwa van Zimbabwe in die 81ste minuut 'n geelkaart gewys was.

Isaskar Gurirab en Alfeus Handura het onderskeidelik vir Papama en Fredericks aan die begin van die tweede helfte vervang. In die 67ste minuut het Nandjebo Theophilus die plek van Wesley Katjiteo ingeneem. Kort voor die einde is Denzil Haoseb opgestuur om 'n paar minute speeltyd in die plek van die spankaptein Willy Stephanus te kry.

Namibië het sy openingswed­stryd teen Senegal Woensdag met 2-1 gewen. Zimbabwe het sy eerste twee wedstryde teen Mosambiek (0-0) en Malawi (2-2) gelykop gespeel om homself met net twee ligapunte in die derde posisie onder druk te plaas.

Die Warriors se laaste twee botsings in groep B is môre en Woensdag teen Malawi en Mosambiek.

Zimbabwe se laaste groepwedstryd is môre teen Senegal, wat gister nog in die tweede posisie met drie punte ná die Warriors gelê het. Net die twee topspanne in elke groep word tot die semifinale bevorder.

Ná gister se sege is Namibië eerste in groep B met 6 punte, met Senegal tweede op 3 en Zimbabwe derde met 2 punte (voor gister se uitslag tussen Malawi en Mosambiek, wat teen druktyd nie bekend was nie).

Groep A se stand: Suid-Afrika (6 punte ná 2), Eswatini (6 ná 3), Botswana (3 ná 2), Lesotho (3 ná 3), Zambië (0 ná 2).

• Die beginspan teen Zimbabwe: Lloydt Kazapua, Ivan Kamberipa, Ananias Geb­hardt, Charles Hambira, Aprocious Petrus, Willy Stephanus (kaptein), Marcel Papama, Wesley Katjiteo, Dynamo Fredericks, Absalom Iimbondi, Elmo Kambindu. – [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-08-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer