Ware liefde en die u2018forever aftersu2019
Ware liefde en die u2018forever aftersu2019

Ware liefde en die ‘forever afters’

Sanet Pearson
’n Kollega roep my verwoed na haar lessenaar.

“Het jy hierdie artikel op Netwerk24 gelees?” vra sy.

Ek loer oor haar skouer om die rekenaarskerm beter te besigtig. “Nee, ek het nog nie,” sê ek.

Sy begin verduidelik dit gaan oor ’n 85-jarige oom van Bellville en oor ware liefde. Ek begin die storie so bolangs lees, maar ek sien net die foto wat by die berig is raak en dit breek my hart.

Op die foto is ’n oom wat kromrug buite ’n venster op ’n plastiese houer met ’n koppie koffie sit en die venster wat met sy kierie oopgehou word. Ek en my kollega is dadelik tranerig.

Kyk hoe mooi is ware liefde. Die storie gaan oor ene oom Jack van Renen (85), oudhoof van die Laerskool Eversdal in Durbanville, wat twee keer per dag vir sy vrou in die siekeboeg in Bellville gaan kuier.

Hy bly in ’n ouetehuis naby die siekeboeg en loop elke dag om sy vrou van 60 jaar geselskap te hou en vir haar lekkernye te bring. Hy mag volgens die inperkingsregulasies nie binne die siekeboeg gaan nie, maar hy het ’n plan beraam om haar elke dag te sien.

Volgens oom Jack weet liefde van opofferings maak en hy sal opofferings maak totdat die dood hulle skei. Is dit nie ongelooflik nie? Ná 60 jaar kan die oom dit nog sê.

Ek guns mense ware liefde. Dit is ongelukkig nie altyd almal beskore nie. Maar dit moet jou nie keer om dit te probeer vind nie. Soos die spreekwoord sê: Aanhouer wen. Ons moet net glo dat daar liefde vir ons wag. Hopelik ware liefde, soos in dié oom en tannie se geval.

Ek wonder of mense nog rêrig weet wat liefde is?

Volgens 1 Korintiërs 13:4-8 is liefde geduldig, vriendelik, nie afgunstig nie, nie grootpraterig nie en nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie en hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.

Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles. Die liefde vergaan nooit nie.

Hoeveel van ons kan sê ons verhoudinge volg hierdie riglyne?

Hoeveel getroude mense kan sê hulle sal so ver gaan om by hul geliefde vrou of man uit te kom? Ek probeer nie vir julle preek nie, maar as jy na egskeidingstatistieke kyk, dink ek nie ons weet deesdae meer wat liefde beteken nie.

Of miskien trou ons te vinnig of vir die verkeerde redes. Wie weet.

Oom Jack en die tannie het ook seker harde klippe saam gekou en klomp sakke sout saam opgeëet. Volgens hom was skei nooit ’n opsie nie, maar moord dalk. Dít het hy glo met ’n vonkel in sy oë gesê.

Elke huis het sy kruis, ons moet net die beste daarvan maak. Ongelukkig is dit partykeer nie moontlik nie. Ek salueer al die getroudes wat ware liefde gevind het en nog steeds, ná al die jare, kan sê jy is so lief vir jou vrou of man soos die dag wat julle getroud is.

Kommentaar

Republikein 2026-07-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer