Wappers kreatief tydens inperking
Wappers kreatief tydens inperking

Wappers kreatief tydens inperking

Leerlinge het die Agter Slot en Grendel-projek begin om gees te bou.
Mariselle Stofberg
Mariselle Stofberg - Al is hulle ver van mekaar af, laat die geesdriftige leerlinge van Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) hulle nie deur die inperkingstyd onderkry nie.

Die graad 9-leerlinge het besluit om hul eie geesbouprojek te begin om die gemoed hoog te hou.

Weens die landswye inperkingsmaatreëls is leerlinge tans met aanlynonderrig besig. Die Agter Slot en Grendel-projek strek oor vier weke met verskeie uitdagings wat in klasverband getakel sal word, al is leerlinge nie fisies naby mekaar nie.

“Die projek gaan daaroor om gees te bou onder die leerlinge deur lekker aktiwiteite met mekaar te deel wat hulle sommer by die huis kan doen en die gevoel te skep van 'ek behoort, al is ek alleen',” sê me. Elize van Niekerk, 'n geografie-onderwyser by WAP.

Tydens die eerste week van die projek sal 'n “mees kreatiewe masker”-kompetisie gehou word. Leerlinge moet maskers van enige materiaal skep wat hulle die dag tydens hul aanlyn-klas kan dra.

'n Foto van elkeen se masker word ook ingestuur na die betrokke klas se IT-spesialis wat al die foto's in 'n blad vir die klas ontwerp wat op Facebook gedeel word.

Gekombineerde fotoalbums sal van elke uitdaging geplaas word.

Week 2 sal 'n isolasiemarathon wees waar elke leerling die Strava-toep aflaai. 'n Video wat die begin en einde van hul draf- of hardloopsessie aandui, word dan ingestuur met 'n minimum van 42 kilometer wat per klas afgelê moet word. Aan die einde moet elkeen iets soos 'n aflosstok aangee vir die vloei van die video.

“Leerlinge hardloop of draf op hul eie en die totale afstand vir die klas word dan bymekaargetel,” sê Ada Kahl, een van die klas se leerlinge.

In week 3 wag 'n kostuumparade waar elke leerling 'n kostuum ontwerp en aantrek waarmee hulle die dag “skool toe” gaan.

“Ons gaan ook 'n lekker kultuurweek hê om alles te deel wat met kultuur verband hou,” sê Karmi Müller, ook in graad 9.

Die vierde week sal Kuns en Kul­tuur in Isolasie wees, waar leerlinge liedjies skryf, sing, dans, instrumente bespeel, 'n gedig skryf of selfs 'n stuk van die skool se Mamma Mia Fiësta-konsert opvoer wat weens die inperking afgestel is. Pryse sal onder meer data en 'n virtuele afdag insluit. “Ons daag graag almal uit om deel te neem en as skool saam te staan in hierdie inperkingstyd,” sê die graad 9-leerder Andrea Hugo.

Kommentaar

Republikein 2025-05-04

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer