Want ons u00eds almal so
Want ons u00eds almal so

Want ons ís almal so

Henriette Lamprecht
Dis ’n leeuwêreld daar buite. Vergeet nou maar eers vir ’n wyle van die groot, internasionale nuus­stasies se ter plaatse beelde van selfmoordbomdraers by bagasietoonbanke in besige lughawens, vloede wat tot kort duskant die Mona Lisa huiwer, die vallende rand (of is dit nou die Britse pond?), popprinse se per ongeluk-oordosis-aan-pille, die Olimpiese Spele in Rio wat ge-“zika” is en Donald Trump en sy Groot Muur om Mexiko. Fokus. Daar is ernstiger dinge in die lewe vir sommige ander. Uiteraard gesien in die lig van bogenoemde wêreldrampe, ligsinnig en onvanpas, maar steeds ernstig.
Trek net die feitetydskrif nader en jy sien en lees vir een is die verlies aan ’n hondelyfie dieselfde as ’n menselyfie. Met respek.
Die feitetydskrif is natuurlik Huisgenoot wat die uwe soos ’n vaste ritueel ná ’n ewige Maandag by die naaste vulstasie op pad huis toe kry. Want dit was nog altyd híér, tussen haar blaaie, wat jy (ek) ’n blik op die regtige hart (én slaapkamer, toilet en badkamer!) van die man en vrou op straat kry. Bowendien kan jy (ek) met die laaste blad se blaai voor slaaptyd jouself (myself) met die sluimerende gedagte sus, dat “Dank Vader, ék is nie so nie.”
Die kritiek op en negatiewe kommentaar op my feitetydskrif is amper soveel as dié wat vir hul geroepe voel om vir Oscar, Karlien (van Jaarsveld), Amor en Steve uit te vat. Verkieslik van agter die deur en met ’n wit-soos-sneeu-gewete, verlede en rede.
’n Persoon van statuur koop nie die Huisgenoot nie. Eerder iets soos Time of National Geographic wat jy sonder skaamte sommer so bo-op jou mandjie goed stapel sodat mense darem kan sien en weet ’n dom leser is dié mandjiedraer beslis nie. En dan is daar natuurlik dié wat die pak, skoene en die das dra met die etiket wat jy eintlik wil laat buite hang, wee die een wat jou keuse met dié van ’n groot kettingwinkel met baie rekeninghouers met sy boetiek verwar. Natuurlik geld dit vir die vroulike geslag ook.
Vir hulle sien jy sommer op ’n myl voor ’n tydskrifrak raak. Nee, nie oor die etikette nie, maar oor die lang planne wat hulle in daardie etiketmoue voer. Eers is daar die stilstaan by ’n tydskrif van vernaam. Verkieslik iets gedruk op glanspapier met ’n voorblad kompleet uit ’n kunsgalery, geneem deur ’n befaamde fotograaf wie se fooi beslis meer as al die inkomste uit die adverteerders in die blink boubybel kos. Met die derde bladsy se versigtige blaai (met dié tydskrifte lek jy nie jou wysvinger nat as die bladsye aanmekaar vaskleef nie, jy blaai die hele aanmekaar gekleefde stapeltjie sáám om), glip die potensiële koper se oog so ongemerk moontlik na waar ander blaaiers en kopers staan. Verskuif na ’n ander hopie glansbybels vir van tuine tot koeke, blaai versigtig, loer onderlangs rond. ’n Man/vrou moet darem eers doodseker maak daar is niemand van belang wat sien die éintlike doel van die boekwinkelbesoek is ’n eenvoudige, glanslose feitetydskrif met stories van vet Careltjie wie se dieet hom toe nou nie ge-“bant” het nie, die voor die kansel verlate ­sepiester, die ander kant van Die Ander Kant en Elvis wat so wragtig (weer) in ’n kroeg op De Aar gesien is waar hy vuurhoutjies en ’n kam bedel.
Flitsvinnig is feitetydskrif onder boublinkbybel in die mandjie, flitsvinnig en nog voor die kassiere kan seker maak of dit die nuutste uitgawe is, is feitetydskrif saam met bloublinkbybel ge-“scan”, betaal en in die winkelsak.
Want niemand mag weet, maar “ons ís almal so” nie. Met respek, Jeanne Goosen!

Kommentaar

Republikein 2025-06-07

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer