Wanneer lirieke nuwe betekenis kry
Wanneer lirieke nuwe betekenis kry

Wanneer lirieke nuwe betekenis kry

Yolanda Nel
In 1993 het Elton John oor die son gesing. “Don't let the sun go down on me. Although I search myself, it's always someone else I see. I'd just allow a fragment of your life to wander free. But losing everything is like the sun going down on me.”

Hierdie lirieke het nuwe betekenis gekry toe Archie Williams onlangs op die verhoog van America's Got Talent (AGT) stap en die geleentheid kry om sy storie te vertel. En dan begin hy Elton se liedjie sing, so vol emosie, asof hierdie woorde geskryf is met hom in gedagte.

Vir amper vier dekades het Archie vasgeklou aan sy onskuld, want dit is al wat hy gehad het. Hy het homself bly herinner hy het 'n plekkie onder die son en hy nie gaan toelaat dat die son op hom gaan sak voor hy nie 'n vry man is nie.

Dit was 1983.

Archie was toe 22 en is skuldig bevind aan die verkragting van 'n 30-jarige vrou van Louisiana wat ook steekwonde aan haar lyf gehad het. Archie se vingerafdrukke en DNS is nie op die toneel gevind nie, maar die slagoffer het hom geïmpliseer. Volgens Sky News het drie mense in die hof getuig dat Archie daardie aand by die huis was. Hy wás onskuldig.

In 1999 versoek hy dat die vingerafdrukke wat op die toneel gevind is, met die op die nasionale databasis vergelyk word, maar sy aansoek word verwerp. Hoewel 'n persoon wat skuldig bevind is kan versoek om DNS-bewyse op die nasionale databasis te vergelyk, word dieselfde vergunning nie vir vingerafdrukke gemaak nie.

Ná 36 jaar agter tralies is 'n tweede versoek wel goedgekeur. Die toetse is op 14 Maart verlede jaar gedoen en Archie het op 21 Maart 2019 as 'n vry man uit die tronk gestap.

Die persoon wat hulle vermoed wel skuldig is, ene Stephan Forbes, is reeds in 1996 in die tronk dood nadat hy in die laat 80's aan 'n poging tot verkragting skuldig bevind is. Hy het destyds erken hy het vyf vroue verkrag.

Tog was dit nie 'n bitter man wat op die AGT-verhoog gestaan het nie, maar eerder 'n dankbare man, wat nou op 58 sy droom kan uitleef. Hy het reeds in die tronk hierdie realiteitsreeks begin kyk en homself eendag op daardie einste verhoog sien staan.

Hoewel Archie 'n platform gekry het om sy storie te vertel, eindig dit nie vir hom hier nie. Hy baklei nou vir alle ander gevangenes wat vir 'n misdaad in die tronk sit wat hulle nie gepleeg het nie.

Archie is nie kwaad nie. Hy dra ook geen wrok teen die slagoffer wat hom verkeerdelik identifiseer het nie.

Hy is eenvoudig dankbaar hy is vandag 'n vry man en dat die son nog steeds op hom skyn.

Kommentaar

Republikein 2026-08-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer