Wanneer die vlamme alles verswelg
Wanneer die vlamme alles verswelg

Wanneer die vlamme alles verswelg

Errol Hurter
Jessica Botes - In die vroeë oggendure hoor sy ? gil. Skrik wakker. Kyk of die kinders nog veilig in hul bedjies lê.
Deur die slaap strompel sy na buite, in die verte flikker iets. Haar buurman hardloop uit sy klein plakkershuisie, benoud besig om al sy besittings bymekaar te skraap.
Skielik sien sy die vlamme wat aan die huisie se dak lek. Dan ontplof die toneel rondom haar in ? warrelwind van mense wat om hulp roep, kinders wat huil en mans wat na water gryp om die vlamme te blus.
Sy staan stomgeslaan. “Gebeur dit werklik nou met my?”
Die vlamme kruip al hoe nader en sy voel die hitte teen haar wang. Die besef dat sy vanaand alles gaan verloor, dring skielik tot haar deur, maar daar is nie nou tyd om daaraan te dink nie. Gryp eers die klein handjies van haar kinders wat nog verskrik binne die huisie wegkruip.
Los hulle maar by ? vriendin waar hulle dalk veilig sal wees.
“Mamma wat gebeur? Mamma, wat van my skoolboekies?”
“Toemaar my kind. Mamma sal dit gaan haal.”
Terug by haar huisie soek sy na haar kosbaarste besittings, dit wat nog te redde is. Maar wat vat jy en wat los jy as jou wêreld binne minute voor jou vergaan?
Die beddens en yskassie moet maar bly, sy kan dit nie uitdra nie en wat dan nog gesê van dié met die lang vingers wat dit sal wegdra as sy dit buite los.
Nee, vat eerder die klein boekie wat ouma vir haar gegee het. Waaruit sy elke aand vir haar kinders lees, waaruit sy haar hoop en moed kry. Die boekie wat sorgvuldig in die kassie langs haar bed gebêre word. Sy soek vinnig, die kamer is donker, maar sy ken al die pad. Krap in die laaitjie rond tot haar vingers die bekende, sagte leer van die boekomslag voel.
Net betyds, want die vlamme hang reeds aan haar gordyne.
Ure later staan sy buite en kyk na die swart roet voor haar. Mense fluister vir mekaar in sagte stemme, soek stadig deur die kole na verlore aandenkinge.
Hoe nou gemaak? Wanneer die vlamme alles verswelg, begin ? mens maar van voor af. Sukkel maar weer om net die nodige bymekaar te maak.
Haar kinders soek kaalvoet, nog in hul slaapklere, na die oorblyfsels van kindwees. Speelgoed en kinderplesiere moet maar vergeet word. Skoolboekies waarvan die kante swart gebrand is, word deurgeblaai. Die goue sterretjies op die blaaie wat juffrou daar geplak het, is ook verlore.
“Mamma, wat van my skoolboekies?”
“Jammer my kind, mamma sal nuwe boekies kry.”
Nuwe boekies, nuwe klere, ? nuwe begin sonder hoop.

Kommentaar

Republikein 2025-08-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer