Wanneer alles uitmekaar val
Wanneer alles uitmekaar val

Wanneer alles uitmekaar val

Karin Eloff
Die lewe is eintlik ’n ewige siklus van net twee toestande – dinge val uitmekaar of dinge kom bymekaar.

Daar’s nie eintlik veel tussenin nie. Die lewe is op een of ander manier altyd besig om met ’n moerse spoed, óf teen ’n slakkepas, na een van dié twee kante te beweeg.

Hier’s ’n scenario: Jy word gebore, jou ouers like jou darem ’n bietjie, jy gaan skool toe, swot, werk, trou, kry kinders, en dan gaan jy dood.

Almal se lewens begin natuurlik met ’n soort bymekaarkoms, en wanneer jy doodgaan, is dit vanselfsprekend wanneer dinge vir ’n laaste keer sommer heeltemal uitmekaar val.

Tussenin gebeur hierdie siklus vyfjaarliks, jaarliks, maandeliks, uurliks, daagliks en soms sommer van minuut tot minuut.

Die 25ste van elke maand kom dinge mooi bymekaar wanneer jy jou geldjies kry, en twee dae daarna val alles weer uitmekaar uit.

Jou tiener bedank jou vir jou harde werk om haar in ’n privaat skool te hou , en die volgende oomblik sê sy haar lewe suig en dis alles jou skuld.

Jou uurglaslyfie lyk Woensdag goed, maar ná Vrydag se Kentucky het alles weer uitmekaar geval en teen Maandag begin jy maar van voor af.

Vir 30 jaar werk jy by ’n maatskappy en dan word jy afgelê of uitgespoeg.

En dan kry jy sommer ’n snotverkoue, bunions of een of ander terminale ook nog.

En dan word jy weer gesond en jy kry weer ’n ander lewensdoel. Of werk. Of projek.

Of nie.

Jy word in ’n lieflike land gebore, maar die leier van daai lieflike land is ’n booswig en dan moet jy en jou hele gesin oppak en vlug.

En dan verdrink die helfte van jou familie op ’n bootjie op pad na ’n nuwe wêreld met nuwe hoop.

Maar dan pik weldoeners die res van julle op en vir een dag is daar selfs ’n gekookte bord kos om te eet.

En dan gaan julle verder en voel net nêrens tuis nie.

En dan is die oorlog in jou lieflike geboorteland verby en keer jy terug. Sonder familie. Dinge het uitmekaar geval, maar dinge het ook weer bymekaar gekom – net nie heeltemal soos jy wou nie. Shit happens. Life happens.

Die Boeddhistiese guru Pema Chödrön het die boek When Things Fall Apart geskryf, waarin sy presies hieroor praat. Hoe de hel gaan jy aan met jou lewe wanneer alles om jou en sommer jyself ook, elke dag net verder uitmekaar val?

Pema se antwoord is nie wat mens verwag nie. Sy stel voor jy kyk die pyn in die oë sonder om daarteen te stry.

In plaas daarvan om onsself kliphard teen alles te staal, moet ons dalk sommer net so sag soos watte raak.

Crack as jy moet crack. Huil. Breek. Dit help nie om te maak of alles oukei is as dit nie oukei is nie.

Maar weet dít: In jou gebreektheid gaan jou hart oopgaan en is daar skielik magic en beauty om elke hoek en draai.

So sê Pema. Ek sal nie weet nie, ek het nog nie die guts gehad om heeltemal te breek nie, maar dit klink vir my na ’n baie wyse benadering.

Want die vet weet, dinge gáán uitmekaar val. Rol nou maar saam met dit. Dis oukei, ons is nie van eiers gemaak nie.

En dinge gáán weer bymekaarkom.

Dalk net op maniere waarvoor jy báie oop oë moet hê.

Kommentaar

Republikein 2025-06-30

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer